The Project Gutenberg eBook of Op die delwerye

This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this ebook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook.

Title: Op die delwerye

Vyf sketse uit die lewe

Author: P. I. Hoogenhout

Release date: November 13, 2023 [eBook #72114]

Language: Afrikaans

Original publication: Cape Town: Maskew Miller

Credits: Kobus Meyer, Emmanuel Ackerman and the Online Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net

*** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK OP DIE DELWERYE ***

[i]

OP DIE DELWERYE
VYF SKETSE UIT DIE LEWE


OP DIE DELWERYE

VYF SKETSE UIT DIE LEWE

DEUR
IMKER HOOGENHOUT

MASKEW MILLER BEPERK
KAAPSTAD

[iii]


[ii]

VOORWOORD.

Die Delwerye! wat roep dit voor ons oog?

Armoede! Ellende! Ontaarding! Sedeloosheid!

Dis wat die meeste mense, met g’n bekendheid daarvan, dink.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe—en die mense stroom van al die dele van Suid-Afrika daarheen in die mening dat dié skatte hulle uit hulle armoede sal red en hulle ellende sal laat ophou, dog teleurstelling wag die meeste, en teleurstelling bring bitterheid van gevoel teen die samelewing, teen die Kerk en soms teen God.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe,—skatte van menselewens, van mensekrag, van mensemateriaal. Skatte vir die Staat, vir die Kerk, vir die Letterkunde. Die Staat moet rekening hou met die Delwerye, want tevergeefs sal ons die Russiese Bolsjewisme buite ons grense[iv] probeer hou, terwyl ons die gees van daardie kwaad kweek in ons eie midde. Die Kerk moet planne beraam om die Troos en Krag wat die Evangelie alleen kan gee, meer gereeld en gedurig te bring aan dié wat anders hulle troos sal soek in wêreldse middels: brandewyn en ydel vermake. Die skrywers kan gerus hulle aandag wy aan die opeengehoopte mensemateriaal wat skatte inhou wat ons opbloeiende letterkunde tot groter heerlikheid sal bring.

Die Skrywer van die „Delwerysketse” doen baanbrekerswerk—prospekteerwerk. Hier en daar, soos sy opvoedkundige werk hom toegelaat het en in aanraking met die delwersgemeenskap gebring het, het hy gate gemaak en orals het hy bewyse gekry van diamanthoudende grond. Hy het gesien watter skatte daar verborge lê en het gedronge gevoel om dit aan die wêreld van Staat en Kerk en Letterkunde bekend te stel. Vir dié ontdekking sal ons hom altyd dankbaar bly, en ons sal altyd sy „Ontdekkersregte” in ag neem en respekteer.

Delwerswerk is op die oog morsig—in die stowwerige aarde en in die morsige klei moet gegrawe word. Hope waardelose „rof” word[v] deur die „bebe” afgeskud voor ’n mens met die wassery kan begin. Die wassery is ’n eentonige besigheid, en dis tog ’n kuns—nie te vinnig nie, ook nie te stadig moet die masjien draai nie, en die „porrel” moet steeds dieselfde dikte hou. Jou klere en gesig word meesal vuil bespat en gee vir die meeste ’n afkeer van die werk. Al die kante van die delwerswerk word deur die Skrywer getoon: die „rof”—die vloeker en drinker; die „porrel”—die mengelmoes-gemeenskap wat deur die lewensmasjien deurmekaar gedraai word, ’n ondeursigtige moddermassa; die sif, waarmee die „gravitating” geskied en die egte diamant sy karakter bewys deur bo te lê as die sif omgekeer word. Die egte diamant word maar hier en daar gekry; ’n geoefende oog is nodig om, as die sif omgekeer word, uit die miljoene blink klippies die ware diamant te sien, maar as die edelgesteente in ons hand lê en ons bewonder sy skoonheid, dan vergeet ons die harde werk, die vuil klere en al die waardelose weggekrapte „was” in ons blydskap oor die skat wat ons uitgehaal het.

In die hoop dat dit die Skrywer mag geluk om deur sy sketse by ons Volk op te wek ’n[vi] groter belangstelling in en groter liefde vir die skatte wat begrawe lê in die delwerye, beveel ons die lesing daarvan van harte aan by almal wat Suid-Afrika en sy Volk liefhet.

E. J. J. van der HORST.

Wolmaransstad, 26 Februarie 1925.


[1]

ANNIE LOSPER.

I.

Die taak van die onderwyser op die delwerye is seker nie een van ongemengde genot nie. Die hele atmosfeer van die diekens, soos die delwers sal sê, is nie juis bereken om skoolhou ’n plesier te maak nie. Die toestande waaronder die kinders opgroei, is so hemeltergend benard dat dit ’n wonder is dat daar nog van een iets teregkom. Die woning bestaan gewoonlik net uit een lokaaltjie, wat so klein is dat ’n groot man hom moeilik tussen die paar kaste en bankies waaruit die huisraad bestaan, kan beweeg. In hierdie kamertjie word gekook en geëet en geslaap en, moenie skrik nie, babetjies gebore. Dat baie kindertjies dus opgroei sonder enige gevoel van skaamte of kiesheid of reinheid, kan niemand bevreem nie.

Maar wat die werk van die onderwyser nog die meeste bemoeilik, is die ondervoeding waaraan[2] so baie delwerskinders ly. As ’n mens die bleek gesiggies en die maer beentjies sien, dan bloei jou hart vir hulle, en in die winter gaan dit eers swaar. Ek het meisies gesien wat net ’n dun linnerokkie aan het sonder enige onderklere, en seuns wat byna nakend loop. En op die kaal vlaktes waar die delwerye meesal gevind word, kan dit raak koud word.

Die sanitêre reëling is uiters primitief, en epidemies van maagkoors of ander besmetlike siektes is glad geen uitsondering nie. Die wonder is dat daar nie meer mense jaarliks aan aansteeklike siektes op die delwerye omkom nie, en temeer as verder in gedagte gehou word dat daar geen enkele hospitaal op die diekens te vind is nie!

Toe, leer nou kinders wat so sonder tug opgroei en daarby nog gedurig honger ly. En tog verseker die goeie onderwyser(es) my dat die delwerskinders gou aan tug en gesag gewend word. ’n Paar meesters beweer selfs dat hulle liewer hierdie natuurkinders van meet af aan in hulle klas wil hê as hulle meer-bevoorregte boeties en sussies. Hoe dit ook al sy, ek het baie respek vir die onderwyser wat ’n sukses[3] van sy werk in die delwerskool maak en daar aanbly, en nie die eerste die beste geleentheid te baat neem om daarvandaan te vlug nie.

Dis opmerklik hoe gou die delwer die goeie meester van sy swakker kollega onderskei en dan vir laasgenoemde die lewe op die delwery onmoontlik maak.

„Waarom stuur julle hierdie nuwe onderwyser nie liewers terug normaalskool-toe nie?” vra ’n delwer eendag aan my.

„En wat is daar dan verkeerd met hom?”

„Kyk, Meneer, ’n meester wat heeldag sy keel hees skree voor ’n klas, kan nie alte veel beteken nie. As ek die hele liewe dag my kaffers moet rondskree, dan sou hulle later nie na my luister as ek ordentlik met hulle praat nie. En dis mos darem nie nodig om soos ’n mal mens te kere te gaan as jy iets aan ’n kind wil duidelik maak nie. Party seuns sê die meester is gek, terwyl ’n paar dogters dit weer so op hulle senuwees kry dat hulle weier om langer skool-toe te gaan. My kind, wat aanstaande jaar in sy klas moet kom, huil nou al as sy daaraan dink. Julle moet die vent wegvat, anders raak hy een van die dae goed opgedons. Ek[4] weet van ’n hele paar delwers wat lus voel vir sy vel.”

Nou redeneer nou met so ’n man, temeer daar hy reg is. Wat skeel dit hom dat hy die wet sal oortree as hy vir Meester opdons? Die natuurmens redeneer nie, hy tree handelend op, en dis wonderlik hoe fyn sy gevoel van reg en onreg ontwikkel is.

Soms egter kry Meester dit opdraand, omdat een of ander voorman op die diekens ’n ander sienswyse oor aanvanklike leermetodes toegedaan is.

„Jy moet die kinders die A, B, C leer,” het ’n vader die onderwyseres een môre in die skool-lokaal voor al die kinders kom teregwys. „Wat vir ’n gemors is daardie klank-affêre? As ek vir my Kosie saans laat woorde spel, kan ek hom nie volg nie. My kind moet net soos sy pape voor hom geleer word!” En toe die onderwyseres haar hieraan nie steur nie, moes sy voor die skoolkommissie verskyn en wou hierdie opvoedkundige liggaam haar met alle geweld dwing om Gert Janse se metodiek te volg en in die toekoms toe te pas. Die kwessie is selfs na die Skoolraad verwys en, moenie lag[5] nie, ’n deputasie moes uitgestuur word om die skoolkommissie tot ander insigte te beweeg.

Dieselfde onderwyseres het later deur haar ywer en toewyding so die harte van die delwers gesteel, dat hulle stilletjies ’n paar lede van die Skoolkommissie na die Onderwys-departement afgevaardig het om beleefd te vra dat haar salaris met £100 per jaar sou verhoog word, mits sy op Syferlaagte aanbly en nie binne tien jaar sou trou nie. En toe die Departement aan hierdie vriendelike versoek geen gehoor gee nie, het die Kommissie my „kaalkop die waarheid vertel en verseker dat beide ek en die Departement net ’n blooming wash-out was en deur generaal Kemp moes uitgeskop word!” „En doen ou Kempie dit nie, dan sal ons so wragtiewaar nie weer vir hom stem nie!”

II.

Die skoolgebou op Syferlaagte was skaars geskik vir ’n koeistal; ja ek twyfel of ’n ryk boer sou bereid gewees het om sy volbloed vee daarin te huisves, en in so ’n lokaal moes ondervoede[6] en onderklede kinders aldag vyf uur deurbring. Oorspronklik was die gebou bedoel gewees vir ’n koeliewinkel, waar so min lig en lug as moontlik vereis word, want dit is nie in die belang van die verkoper dat sy kliënt alte goed die ware wat hy koop, moet kan besigtig nie. Die hele gebou het twee klein venstertjies en ’n deur gehad. Die sinkmure was van binne nie met hout uitgevoer nie; daar was geen plafon nie, en die vloer was van grond.

In die hartjie van die somer het die sink so warm geword dat ’n mens dit nie met jou kaal hand kon aanraak nie; voeg nou daarby nog die asempies van 62 leerlinge wat almal in die een lokaal ingeprop is, en dan sal jy ’n flou denkbeeld kry van hoe die lug so teen twaalfuur in die skoolgebou moet wees.

Buite kry ’n mens net die uitgegrawe kleims en die hope dooie grond en gruis. ’n Boom is ’n onbekende iets. Maar stof, as die wind waai, hang soos ’n bruin sluier oor die delwerye en verpes die atmosfeer in die skool nog meer. En, leser, hierdie beskrywing is nie uit die duim gesuie nie; dis getrou aan die waarheid.

Onder sulke omstandighede moet die onderwyseres[7] onderrig gee en moet die kinders opgevoed word!

En die outoriteite is nie altoos te blameer nie, want ’n delwery is iets wat dikwels in ’n dag se tyd ontstaan en soms binne ’n jaar se tyd verlate is. Inteendeel, dis prysenswaardig dat daar tog ’n poging aangewend word om onderwys te verskaf aan die honderde kindertjies wat anders vir kwaadgeld sou rondloop.

„Toe, begin maar,” sê ek aan die onderwyseres by die aanvang van die skool, „en gaan voort net soos gewoonlik.”

Sy open met gebed en laat toe sing: „Heer, waar dan heen” en wat daar op volg, wat my nogal as heeltemal treffend voorgekom het. Ja, ek weet nie van nog ’n gesang wat so toepaslik is vir die delwerye nie.

Daarna het sy die sondvloed met die leerlinge behandel; en al het sy dit nou nie juis altyd streng ortodoks gedoen nie, tog het sy meesterlik daarin geslaag om dit interessant voor te dra en die kinders se aandag te boei.

Na afloop van die les sê sy: „Nou, kinders, kan julle vrae stel oor enigiets wat julle nie duidelik is nie.”

[8]

„Juffrou,” en agter in die klas gaan ’n vuil handjie omhoog, „het Noag vlieë en vlooie ook in die ark geneem?”—Hierdie insektetjies is vreeslik lastig op die diekens.

„Ek dink seker, Kosie,” antwoord die onderwyseres.

„Maar hoor dis jammer dat die ding nie vergaan het nie,” weer van Kosie.

„Maar, Kosie, dan sou die mense en die diere ook mos saam verongeluk het, en dan sou geeneen van ons mos vandag hier gewees het nie,” herneem Juffrou.

„Ja, dis ook weer waar,” sê Kosie. Dog op sy gesiggie is ’n onverskillige uitdrukking duidelik leesbaar, en dis nie moeilik om te ontsyfer wat in sy breintjie omgaan nie: As die mens moes gespaar gebly het om sy lewe op die delwerye te slyt, dan was die redding van Noag en sy kroos ’n groot fout.

„Juffrou,” en vlak voor haar word ’n handjie omhoog gehou van ’n meisietjie met groot blou kykers en ’n maer gesiggie wat van ondervoeding getuig, „Juffrou, glo Juffrou alles wat in die Bybel staan?”

[9]

„Hoekom vra jy dit, Miemie?” sê die onderwyseres sonder om haarself te kompromiteer.

„Omdat my pa sê dis somar alles kaf, maar Mammie sê weer dis alles die heilige waarheid. En al glo ek vir my mammie, want sy is so goed, tog wil ek graag weet wat Juffrou dink.”

„Ek stem saam met jou mammie,” bevestig Juffrou.

Hier val ek in: „Waar is jou ouer sustertjie, Miemie?”

„Sy is siek, Meneer, baie siek. Sy laat groete weet en sal tog so bly wees as Meneer net vir haar ’n oomblikkie wil kom besoek voordat Meneer wegry. Sy het so vorentoe gekyk na die inspeksie, maar nou...” en hier swem klein Miemie se oë in die trane.

„Nou goed. Sê vir Annie ek kom haar vanmiddag besoek en sy moet gou gesond word.”

Dis snaaks dat ek vir Annie Losper so goed onthou het. Ek kon sedert my vorige besoek nooit haar gesiggie uit my geheue verban nie. Uit ’n allerarmoedigste huisgesin, het tog haar oë en die soet uitdrukking van die gesiggie somar dadelik ’n mens getref. In haar klas was sy maklik nommer een in elke opsig, en die[10] onderwyseres, iemand van lang ervaring, het my verseker dat sy nog nooit van te vore so ’n kind in haar klas gehad het nie. Haar opmerking verlede jaar was dan ook snaaks genoeg: „Ek glo nie sy is vir hierdie wêreld nie!”

Eindelik was die inspeksie afgeloop en kon die skool vir die dag sluit. Die werk was baie bevredigend, en die juffrou en die kinders het ’n pluimpie gekry.

Nou wag daar nog ’n paar lede van die Skoolkommissie; maar ook hulle moeilikhede is ten laaste opgelos, en nou was ek net haastig om weg te kom.

Onder al die werksaamhede van die dag het ek Annie glad vergeet.

III.

Die delwer het heelwat goeie hoedanighede, en as ’n mens geleer het om sy minder beskaafde karaktertrekke nie raak te sien nie, dan begin jy hom werklik liefkry.

Dit was al na drie toe ek kon vertrek, en ek het nog nie eers die tyd kon vind om te eet nie.[11] Ek het my derhalwe gehaas om by die huis te kom. Voordat ek egter die delwery uit was, bars daar ’n vreeslike onweer los wat my verplig om in die eerste die beste huisie skuiling te soek. My gasheer was ’n man van sowat dertig somers en ongetroud. Aan alles in die hutjie kon ’n mens merk dat hy beter dae geken het. Sy opmerking by my binnekoms was dan ook vreemd genoeg: „Jy het seker gedink toe jy by my deur instap:

„Man wants but little here below,
Nor wants that little long!”

„Jy het reg geraai,” antwoord ek, „maar wat soek jy hier op die delwery?”

„My naam is Fanie Renier en ek is ’n teruggekeerde soldaat wat vir reg en geregtigheid onskadelik gemaak is,” sê hy op ’n bitter toon, „en wat toe na die delwerye gestuur is met £20 om hier te kom vrek!... Maar het jy al geëet?”

„Nee, ou broer, maar moenie moeite maak nie; kos is seker by jou nie alte volop nie.”

Sonder om hom aan my te steur steek hy ’n Primus-stofie op, bak gou ’n paar eiers, braai ’n stukkie vleis en sit vir my dit voor met ’n stukkie[12] droë brood en koffie.... Ek het later uitgevind dat hy my sy laaste leeftog voorgesit het en dat hy die volgende dag sonder kos moes bly. Vandaar dan ook die gesegde in Transvaal: „By ’n trekker en ’n delwer is ’n mens altyd welkom.”

Die weer het eindelik opgeklaar, en na ’n hartlike dankie aan my nuwe kennis wou ek op die moter klim.

„Kyk hier,” sê hy, terwyl hy my aan die arm vat, „kan julle dan niks doen vir die mense wat hier langs my woon nie? Die toestand van hierdie famielie is allerellendigs. Die vader suip soos ’n vis, die moeder is in die bed met ’n babetjie, die oudste dogtertjie lê siek, en die ander kinders word totaal verwaarloos. Ek glo nie daar is ’n stukkie kos in daardie huisie te kry nie. So ver ek kon het ek gehelp, maar op die oomblik is ek self poot-uit. Kan jy nie nog ’n oomblikkie spaar om saam met my te gaan kyk nie?”

Om die waarheid te sê, het ek maar min lus daarvoor gevoel, maar meer om my gasheer tevrede te stel as om enige ander rede het ek ingewillig.

[13]

Die famielie het maar ’n paar tree van Fanie se huisie gewoon, en ons was dus gou by ons bestemming. Nou het ek al gewoon geword om enige pondokkie op ’n delwery as geskik vir menslike verblyf te beskou, maar so ’n krot as waar ons nou voor staan, het ek nog nooit gesien nie. Hoe enige persoon in so iets kan lewe, is vir my nou nog ’n raaisel! Die hutjie het bestaan uit ’n klompie oopgevlekte parafienblikke wat op een of ander manier aan mekaar getimmer was, met seilsakke hier en daar tussenin om as vensters te dien.

Ons kruip hande-viervoet in, en ons oë moes eers gewoon word aan die half-duister voor ons iets binne kon onderskei.

„Ruk daardie sak solank af asseblief,” sê ek aan Fanie, „sodat ’n mens kan sien en asem kan skep.”

Hy doen dit op my versoek, en toe ontvou hom daar ’n toneel aan ons oë, so hartverskeurend soos ek nog nooit van te vore gesien het nie of hoop om ooit weer getuie van te wees nie.

In die een hoek op ’n klomp sakke wat oor droë gras gesprei is, lê die moeder met haar babetjie, en onder by die voetenent op ’n paar[14] sakke die siek dogtertjie, wat niemand anders as Annie Losper was nie. My nuwe kennis en ek kon ons met moeite omdraai in die kamertjie.

„Die dokter was vanmôre hier,” fluister Renier in my oor, „en hy sê daar is nie hoop vir Annie nie. Haar liggaampie is deur gedurige ondervoeding te uitgeput om die siekte af te skud.”

Dis my later meegedeel dat Renier ses maande na hierdie voorval nog altyd doktersrekening afbetaal het.

„Dag, Annie,” groet ek so opgewek as ek kon onder die treurige omstandighede, „en hoe gaan dit met jou, my kind?”

„Nie alte sleg nie, Meneer, maar ek was tog so spyt dat ek nie vandag op skool kon wees nie,” antwoord sy met ’n flou glimlaggie, en haar stemmetjie was so swak dat ek haar amper nie kon verstaan nie.

„Ag, moenie vir jou kwel nie, my kind; jy sal tog in ieder geval oorgeplaas word na ’n hoër standerd. Hou maar vir jou stil sodat jy gou kan gesond word. Aanstaande jaar hoop ek seker om jou weer eerste in jou klas te sien staan.”

’n Hemelse glimlaggie speel om die bleek ou mondjie. Sy skud haar koppie en nouliks[15] hoorbaar fluister sy: „Aanstaande jaar sal ek nie meer op skool wees nie.”

„Ag nee wat, Annie, jy is nog glad te jonk om uit die skool te gaan,” en ek maak asof ek haar nie reg begryp het nie, „en die onderwyseres sal dit mos nooit toelaat nie. Maar moenie meer praat nie; dit maak jou alte moeg. Probeer liewer om ’n bietjie te rus.”

Ek moes nou my oor vlak teen haar mondjie hou om te hoor wat sy sê. Gelukkig het Renier die moeder besig gehou en sy het dus nie gemerk wat hier by haar plaasvind nie.

„Meneer,” en sy kyk my stip in die oë, „sal Meneer nie asseblief vir my saggies Psalm 23 opsê nie? Ek het dit laas nog by die inspeksie vir Meneer opgesê.”

Dis die eerste keer wat ek die rol van sieke-trooster en predikant moes vervul, maar ek het dit gedoen so goed as ek kon. Ek het haar uitgeteerde handjies in myne geneem en toe daardie mooi Psalm so goed as ek kon opgesê. Toe ek klaar was, kon ek nog ’n flou dankie hoor en daarna die woorde: „Al gaan ek ook in die dal van die skaduwee van die dood, dan sou ek nie kwaad vrees nie.” Toe breek die[16] mooi blou ogies, die handjies word koud, en Annie Losper was in ’n beter wêreld oorgeplant.

Die handjies het ek eerbiedig op die borsie gekruis, ’n sagte soentjie op die voorkoppie gedruk, en toe letterlik die pondokkie uitgevlug. My gemoed was te vol; ek kon die droefheid en hartseer ook nie aansien nie.

Uit die tent kom die angsgeskrei van ’n gebroke moederhart: „O, my God! My kind! My kind!”

Buite het ek vir Renier gewag. Aan sy gesig kon ek sien dat ook hy ontroerd was. Daar is geen woord tussen ons gewissel nie, net ’n warm handdruk wedersyds, en toe het ek op die moter geklim en huis-toe gery.


[17]

HENDRIK BLITS.

I.

Wat Hendrik Blits se regte naam was, kon niemand van die delwers my vertel nie. Hierdie bynaam het hy verwerf, eerstens omdat hy hom gereeld elke naweek dronk gedrink het aan kafferblits, en twedens omdat sy taal dan by sulke geleenthede so sterk gekleur was.

My kennismaking met Hendrik was nogal baie buitengewoon. Op ’n koue môre in Julie het ek my op Diamantkuil bevind, waar ek in gesprek was met die hoof van die Goewerment-skool, toe hy die opmerking maak: „Allewêreld, hoe mishandel so ’n Groot Lawaai weer vanoggend die stomme donkies!”

Groot Lawaai was die naam van ’n groot, vierkantige lummel van ’n vent. Hy was ’n baster en ’n boelie so groot as wat daar te vinde is. Om sy grootte en krag het die delwers hom met respek behandel en verder maar so veel moontlik uit sy pad gebly. Ek kyk in die[18] rigting waar die hoof wys, en daar sien ek ’n waterwa met veertien donkies bespan, krakend en waggelend die spruit se wal uitkom. Dit was duidelik dat die donkies so skaars-skaars die wa kon uitbring. En g’n wonder nie! Gras was daar op die hele delwery nie genoeg vir ’n paar honderd sprinkane nie, laat staan ’n paar honderd diere. En op hierdie veld moet die arme donkies nou snags hulle pense volvreet, na ’n dag van swaar trek en mishandeling.

’n Diamantkoper wat ook vroeër gedelf het, het eendag die onderstaande opmerking in my teenwoordigheid gemaak: „Twee dinge dank ek die liewe Vader dat ek nie is nie: ’n delwer se donkie en ’n delwer se vrou!” Sedert dié tyd het ek eersgenoemde bewering ongelukkig al oor en oor gestaaf gesien.

Wel, die veertien donkies van Groot Lawaai was g’n uitsondering nie; die arme diere was letterlik net vel en been. Om hulle aan die gang te hou, loop hy op en af langs die span, en terwyl hy die gruwelikste vloekwoorde uitstoot, gésel hy die donkies meedogenloos met ’n groot handsambok. ’n Mens kon die doef, doef, van die houe seker ’n myl ver hoor.

[19]

„Maar is hier dan niemand op Diamantkuil om ’n stop aan sulke wreedheid te sit nie?” vra ek, en ek voel hoe die bloed na my kop toe bruis.

„Nee,” sê die hoof, „almal is bang vir Groot Lawaai, want hy is ’n vreeslike woestaard.”

Al nader en nader kom die wa, en al harder en harder klink die doef, doef van die sambok.

Ek het my al klaar voorgeneem om met die vent te gaan praat en, as dit nie help nie, die poliesie van die mishandeling van die esels te gaan verwittig, toe daar skielik uit ’n onverwagte oord ’n ander vir die donkies in die bres spring.

„O magtig!” roep die hoof verbaasd uit, „wat gaan Hendrik Blits nou maak? Groot Lawaai sal hom vermorsel. Laat ons nader stap om, indien moontlik, die rusie te voorkom.”

Ek het nooit die persoon opgemerk wat g’n vyftig tree van ons af onder ’n doringboom gelê en slaap het nie, voordat die opmerking van die onderwyser nie my aandag by hom bepaal het nie. Ewe op sy gemak staan Hendrik Blits op, rek hom uit, gooi sy flenterbaadjie van hom af en stap reguit na Groot Lawaai toe.

[20]

„Kyk hier, jou gemene boelie, as jy nog ’n slag jou arm oplig om die donkies te slaan, dan dons ek vir jou op. Het jy my begryp, jou vervloekte baster?”

Die Groot Lawaai se gesig was die moeite werd om te sien. Dis amper ongelooflik dat ’n mens se gelaatstrekke so kan verander. Die duiwel, soos hy my in my kinderjare op sy lelikste afgeskilder is, sou vir hierdie bakkies geskrik het.

„Jou verd...de kind!” brul Groot Lawaai woedend, „sal jy vir my kom belet om my eie diere vrek te slaan as ek wil? Jakob! Jou d..der!” en met hierdie vloek slaan hy die hotagter donkie oor die kop netso hard as hy kan. Toe draai hy na Hendrik Blits en sê smalend: „En nou gaan ek van jou frikkadel maak, jou vieslike dronklap.”

’n Mens sou nooit sulke ratheid by Hendrik gesoek het nie, maar voor jy mes kon sê, ruk hy die handsambok uit die baster se hand uit en gebied: „Trek uit jou baadjie; ek wil jou op gelyke voet ontmoet, sodat jy nie naderhand behoef te vertel dat ek jou onder ’n hendikep ’n pak slae gegee het nie. Toe, maak gou as jy[21] nie te lafhartig is nie!” En Hendrik gooi die sambok neer en plaas sy voet daarop.

Groot Lawaai het hom nie tweemaal laat nooi nie. Hy pluk sy baadjie uit en onder ’n stroom van die profaanste vloeke loop hy vir Hendrik storm. Van natuur is ek nie iemand wat behae skep in rusie en bakleiery nie, maar hierdie môre het ek die mieks-op—soos die delwers sal sê—eerlik geniet, en my hele siel was aan Hendrik se kant.

’n Man wat baie woedend is, kan nie goed boks nie. Groot Lawaai was seker tweemaal so sterk as Hendrik Blits, maar waar laasgenoemde kortgeskiet het in krag, het sy ratheid en kennis van boks hierdie tekortkoming meer as vergoed.

Hy duik onder Groot Lawaai se arm deur, en voordat die baster sy ewewig kan herwin, kry hy ’n opstopper op sy kinnebak wat hom soos ’n besopene laat waggel. Arrie! maar dit het die boelie darem nie verwag nie. Hierdie veragtelike skepsel wat hy tot stof sou vermorsel, het hom so wrintig-waar amper onderstebo geslaan. Hy sal nou sy taktiek verander en versigtiger te werk gaan. Soos ’n mierkat om ’n slang begin Groot Lawaai al om Hendrik Blits te dans, totdat[22] hy skielik buk en die handsambok gryp en voordat Hendrik kan keer, hom ’n hou oer sy gesig gee dat die bloed so tussen vel en vleis wys.

„Eina! maar dis gemeen!” skree die onderwyser, en hy tel ’n klip op wat goed ’n paar pond weeg. „Ek voel by my kool lus om die vloek se kop hiermee te verbrysel!” en hy hef die steen dreigend omhoog.

„Wag maar,” sê ek, „Hendrik is mans genoeg vir hom; dis nie die eerste keer wat hy boks nie. Ek wonder waar hy die kuns aangeleer het?”

Die geveg word hoe langer hoe doller. Groot Lawaai het tot die ontdekking gekom dat die enigste kans om te wen in die hanteer van die sambok lê, en bokspring nou al vinniger om Hendrik. Eindelik sien laasgenoemde die psigologiese moment. Soos ’n wildekat vlieg hy vorentoe onder die sambok deur, wat sy kop strykelings raak, gee sy teenstander ’n geweldige slag met die linkervuis op sy wind, en toe hy inmekaar sak, gee hy hom die coup de grâce so netjies dat Dempsey hom die hou sou beny het.

Ongeërg tel hy die sambok op en wag tot Groot Lawaai bykom.

[23]

„Kyk hier, jou gemene baster, nou gaan jy eers die pak slae kry wat jy al lank verdien het. Ek wil hê jy moet ’n slaggie voel hoedat jou eie sambok slaan. Miskien sal jy dit dan in die vervolg ’n bietjie minder op die donkies gebruik.” En met hierdie woorde steek Hendrik los. Die eerste en die twede hou het Groot Lawaai nog verdra, maar toe spring hy weg en loop netso hard as hy kan al om die wa en die donkies, en kort op sy hakke is Hendrik, wat al die tyd onbarmhartig daar op los slaan.

Eindelik kan die boelie nie meer hardloop nie. „Asseblief, Meneer,” soebat hy, „sowaar, Meneer, ek sal die donkies nooit weer mishandel nie! Moenie meer vir my slaan nie! Ag, asseblief tog, my baas!”

„Dè, vat jou sambok,” sê Hendrik, en in elke woord was veragting te lees, „maar die Here help vir jou as jy weer die donkies mishandel.” En sonder ’n verder woord stap hy na die boom toe, trek sy baadjie aan, stryk sy hand oor die striem op sy gesig en strek hom so lank as hy is op sy rug onder die doringboom uit.

„Daardie kêrel se hand wil ek vat, al is hy ook[24] ’n dronklap,” voeg ek die hoof toe. „Daar steek meer in hom as in ons twee saam!”

En so het ek kennis gemaak met Hendrik Blits.

II.
Ds. Evertse kom op die Toneel.

In ds. Evertse se studeerkamer op Smartendal hang daar ’n geillumineerde teks aan die muur: „Gered om te dien.” Veral in die laaste maande het daardie woorde die dominee nooit met rus gelaat nie. Nou moet die leser nie hiervan wil aflei dat ds. Evertse sy pligte as predikant verwaarloos het nie. Dit is nie die geval nie. Sy eie gemeentelede word getrou bearbei, maar dit neem al sy tyd en kragte in beslag. Sy hart bloei vir die delwers, en hoe langer hoe meer word dit vir hom duidelik dat sy plig hom Diamantkuil-toe roep. As ds. Evertse oortuig is dat sy paadjie in ’n seker rigting loop, dan laat hy hom van niks keer nie. Hy bring die kwessie voor sy Kerkraad, bepleit die noodsaaklikheid vir die geestelike bearbeiding van die[25] delwers hartstogtelik en wen sy saak. ’n Locum tenens word benoem, en die dominee kry verlof om vir vier maande sy tyd en kragte uitsluitend aan die delwers te wy. ’n Week later was ds. Evertse op Diamantkuil in ’n tentjie tussen die uitgewekenes, bereid om te dien.

Sy koms daar is met gemengde gewaarwordinge deur die delwersbevolking begroet. ’n Klein klompie was waaragtig bly, ’n groot klomp was heeltemal onverskillig, en ’n hele paar was openlik boos.

Die delwersgemeenskap is uit die aard van die saak kosmopolieties. ’n Mens tref daar aan: Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere, Engelse en Duitsers en wat dies meer sy, maar verreweg die meeste bestaan uit Afrikaners van alle rang en stand. Daar is diegenes wat altyd arm was en arm sal doodgaan, en daar is ander wat eers ryk bedeeld was met aardse goedere en deur hulle eie toedoen of deur teenspoed alles verloor het.

Die dominee het egter nie gras onder sy voete laat groei nie, en die delwers, wat baie fyn is om iemand gou na waarde te leer skat, het hom spoedig liefgekry. Hy was regtig soos een van[26] hulle; nie uit die hoogte het hy hulle genader nie, maar as iemand wat gered is om te dien. Niemand word oorgeslaan nie, tot in die vuilste pondokkie kruip hy in, nie om te preek en te bestraf nie, maar om ’n woordjie van bemoediging en ’n boodskap van hoop te bring.

In die aand word ’n kort diens gehou. ’n Lantern word aan ’n paal gebind en omhoog gehou as teken dat die dominee op daardie plek sou preek. Die eerste week het nog geen dosyn delwers opgedaag nie, dog die gehoor het altyd meer en meer aangegroei. Die woord het van mond tot mond gegaan dat ds. Evertse dit wel met die delwers meen.

Treffend was dit om saans die delwers te sien opkom. Diegenes wat ’n lantern besit, bring dit saam. Die diens word onder die blote hemel gehou. Bo die dominee se hoof hang die lantern aan die paal, en verder word lig verskaf deur die lanterns wat die delwers saamgebring het.

Die Woord word in alle eenvoud dog met diepe erns gebring, en indrukwekkend was dit om die gesigte van die toehoorders gade te slaan. Slegs enkeles spot openlik, die grootste gros[27] luister aandagtig en eerbiedig. En as die dominee Ges. 7 vs. 2: „Sy troue Vaderoë sien alles van naby” opgee, dan sing die gehoor dit so hartlik soos ’n mens dit selde in enige kerk hoor, en as die laaste tone wegsterf oor die slapende vlaktes, dan voel die delwer dat daar darem nog Een is wat vir hom sorg. Ook dié onder hulle wat Hom in hulle ellende gevloek het, verlang terug na die dae toe hulle as kind aan die knie van ’n vrome moeder hulle gebedjie geprewel het, en begin hulself af te vra of hulle nie liewers moet terugkeer tot die ou weë nie.

Saterdags het die dominee dit altyd baie moeilik gehad. Op daardie dag kom die drank-lorrie die delwery ’n besoek bring, en dan moet meer as een huigesin die volgende Sondag sonder kos gaan, omdat die vader sy laaste paar sielings aan ’n bottel brandewyn bestee het. En as dit maar al was! Maar die gruwelike dronktonele wat daar dan soms afgespeel word, is te vreeslik om te boek te stel.

Aan hierdie hemeltergende euwel behoort onmiddellik deur wetgewing ’n end gemaak te word. Moet die vrou en kinders dan vir ewig ly omdat die man ’n bees van hom wil maak, en waarom[28] moet die brood uit die mond van die onskuldiges gehou word om gewetenlose drankhandelaars te verryk?

Dit was die Maandagaand na so ’n naweek dat die dominee my versoek het om op die delwery oor te bly en sy diens by te woon. „Gister en eergister was dit weer baie kwaai,” sê hy, en hy skud sy hoof: „die arme Hendrik Blits was weer buite kennis van Saterdagmiddag af tot van oggend toe. Ag! as ek Hendrik tog net so ver kon kry om die drank te laat staan, hoe sou ek die goeie God dank. Hy word beskou as een van die rofste karakters op Diamantkuil, en tog het ek al baie dingetjies opgemerk wat my oortuig dat daar meer in hom steek as wat die meeste delwers dink.”

Wis ek dit nie? Daardie koue oggend se voorval met die baster was my nog helder voor die gees.


Die dominee het daardie aand die gelykenis van die Verlore Seun vir sy gehoor uit die Afrikaanse bewerking van die Nuwe Testament voorgelees. Ek het al dikwels in die kerk en in die Sondagskool opgelet hoedat hierdie verhaal[29] grootmense sowel as kinders aangryp, maar nog nooit het ek ’n aandagtiger gehoor as toe gesien nie. Die delwers: man, vrou en kind, het letterlik aan die prediker se mond gehang en elke woord ingedrink.

„Geliefdes,” roep die prediker aan die end van sy rede, en sy stem is pleitend, net soos ’n liefhebbende moeder met haar stout seuntjie sou praat, „geliefdes, net soos die Vader se oog al van ver sy afgedwaalde seun sien aankom het en hy met ’n hart brandende van liefde hom tegemoet gesnel en gekus het, netso wag julle hemelse Vader vir elkeen van julle. Maar dan moet dit nie enkel by goeie voornemens bly nie. Nee, julle moet opstaan en soos die verlore seun na Hom teruggaan. Waarom sal julle langer as huurlinge swynedraf eet, wanneer julle as seuns en erfgename by julle Vader kan aansit?” Toe word as slotsang gesing: „Komt gij allen, komt tot Hem, zondaars, komt, wat zou u hindren,” die seën word uitgespreek en die diens was afgeloop. Een vir een gaan die delwers huis-toe. Net een bly agter. Hy het so ’n bietjie opsy in die skaduwee gestaan, asof hy bang was dat iemand hom sou raaksien. Soos Nikodemus[30] het hy in die nag gekom, omdat hy bevrees was om gesien te word. Nou tree hy vorentoe en kon ek die verbasing op die dominee se aangesig lees. „Wel, Hendrik man, ek is waarlik bly om jou ook vanaand hier te sien!”

„Maar ek was nog elke aand teenwoordig, Dominee, hoewel ek nie juis my bakkies in die lig wou wys nie,” sê die aangesprokene, wat niemand anders as Hendrik Blits was nie. „Dominee, mag ek met jou saamstap na jou tent toe? Of is jy ook bang vir hierdie paaiboelie?” gaan hy verder.

Ek wou my verwyder, maar op versoek van die dominee en Hendrik het ek saamgestap.

„Kyk, Dominee,” sê hy toe ons in die tentjie van die predikant sit, „daardie preek van jou het my vanaand laat besluit dat ek ook wil teruggaan na my aardse vader. Ek wil graag met die Hemelse ook vrede maak, maar kan tog nie voordat ek nie eers met my natuurlike vader versoen is nie. Ek is moeg vir varkkos. Sal jy vir my help?”

„Alte seker,” sê die dominee op so ’n opgewekte en bemoedigende toon, dat ek by myself dink die saak is alreeds halfgewen.

[31]

„Maar, Dominee, ek is ’n duiwel as ek drank ruik, en het u al vergeet hoedat ek u nou die dag nog beledig het?” gaan Hendrik voort.

Vergeet?” herhaal die dominee sag, „nee, maar vergewe wel. Ek wis dat dit die drank was wat gepraat het en nie Hendrik nie.”

In Hendrik se oog blink warempel ’n traan. Dit was lank laas dat iemand so vriendelik met hom gepraat het.

„En kyk hier Hendrik man,” herneem die dominee, „jy kom van vanaand af hier by my in die tent woon. Ek neem g’n weiering aan nie. Jy het na my toe gekom om hulp, en met Gods genade gaan ek jou help. Maar vertel my eers hoedat jy hier op die delwerye te lande gekom het.”

III.
Hendrik vertel sy Lewensgeskiedenis.

Dis ’n lang storie, Dominee, en vir my nie eintlik plesierig om te vertel nie, maar ek sal dit so kort en saaklik doen as ek kan. My ouers lewe nog, woon in die Westlike Provinsie en is ryk. Ek is die enigste seun, maar daar[32] is nog twee dogters ook in die lewe. My eerste onderrig het ek in Pêrel ontvang, en vandaar is ek na die Kaapse Uniwersiteit toe, waar ek my graad in die wetenskappe behaal het. My vader wou hê ek moes kom boer en die plaas bestier, maar met my het dit gegaan soos met baie ander boerseuns. As ons klaar geleer het, dan kan ons dit eenvoudig op ’n plaas nie uithou nie. Jy is ’n dominee en hierdie vriend ’n onderwysman, maar kan julle dan niks daaraan doen om ons onderwysstelsel so te herskep dat dit meer uit die volk en vir die volk is nie? Kyk wat dit van my gemaak het. En al wil ek myself en my toestand nie hierdeur verskoon nie, tog beweer ek dat ’n kind vandag so opgevoed word dat hy aan die plaaslewe hoog die land het as hy klaar is. ’n Mens sou sweer dat elke seun ’n klerk of onderwyser of dokter of so iets gaan word en elke meisie ’n onderwyseres of tikster. Nee, ons stelsel mag vir die buiteland deug, maar vir Suid-Afrika is dit hopeloos verkeerd.

Ek wou vir dokter in die medisyne gaan studeer, en hoewel teen sy sin, het my vader eindelik ingewillig. ’n Maand daarna was alles in orde en het ek na Londen vertrek om my[33] studies voort te sit. Die eerste jaar het dit goed gegaan en die twede ook, maar toe het ek in slegte geselskap verval. Ek het naamlik die vriendskap verwerf van ’n Amerikaanse student wie se vader ’n miljoenêr was en wat derhalwe nooit gebrek aan geld gehad het nie. Tot dusver het ek altyd maklik uitgekom met die toelae wat my vader my maandeliks gestuur het; ek het selfs geld oorgehou, want my vader het my rojaal behandel. Maar nou het ’n maand se geld my skaars ’n week geduur. Ek het deur my vriend in High Society gekom, en die gevolg was dat ek skuld begin maak het. As ek hierby nog vermeld dat ek ’n eersteklas voetbalspeler en die beste bokser op die Uniwersiteit was, dan sal u wel kan verstaan dat ek dikwels uitgevra is, aan baie bankette en danse deelgeneem, en later ’n smaak vir sterk drank aangekweek het.

Maar so kon dit nie voortduur nie; my skuldeisers het my begin te dreig, en my vader moes opdok. Hy het betaal, maar my onmiddellik gebied om huis-toe te kom.

’n Maand later was ek in Tafelbaai. Aan boord skip het ek vir oulaas nog die groot meneer[34] gespeel, en toe ek by die Kaap kom, was my lyf lekker. Ek het nooit my ouers by die doks verwag nie, anders sou ek my miskien nog ’n bietjie bedwing het, maar berou kom altyd te laat. Op pad huis-toe het my moeder elke slag ’n traan uit haar oë gevee, en my vader was woedend.

„Toe, gaan slaap eers jou roes af,” sê hy by ons tuiskoms, „en dan sal ons môre mekaar onder vier oë spreek. Jy behoort jou te skaam om jou moeder en my soveel verdriet aan te doen.”

Die volgende môre het my vader my in sy kantoortjie geroep en vreeslik geroskam. Ek het dit alles verdien, Dominee, maar as my vader net ’n bietjie meer simpatiek was ...

„As ’n gewone dagloner sal jy nou moet werk, en as jy binne die eerste twee jaar goedmaak, sal ek jou weer as my seun behandel. Maar die eerste die beste keer wat jy ’n mistrap doen, jaag ek jou soos ’n kaffer van my plaas af weg!”

Maar my moeder en my susters het my alles vergewe, en om hulle nooit weer leed aan te doen nie, het ek my ernstig voorgeneem om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

[35]

Dit het egter geblyk dat die duiwel nie so gemaklik van die syne afstand doen nie. ’n Gereelde kuiergas van my suster was ’n vent wat ek somar van die eerste dag af aan nie kon veel nie. By my vader was hy egter baie gewild, hoewel my moeder en my oudste suster hom nie juis uit liefde om die nek geval het nie. Wat my nog meer vererg het, was die feit dat hy my kompleet nes ’n bediende in die huis behandel het. Ons maat het hom verbeel dat hy verbasend musikaal was, en hy het selfs musieklesse gegee, maar my opienie was dat die Muse haar hoof uit skaamte laat hang het sodra hy sy mond oopmaak om te sing.

Wel, een aand toe almal al moeg was van sy geskree en daar ’n oomblikkie stilte gekom het, vra ek verlof om die Ave Maria van Schubert op die gramafoon te speel. Dit was ’n plaat van Heifitz—op die oomblik, soos u wellig weet, een van die grootste vioolspelers in die wêreld. Ek het hom self in Londen gehoor, Dominee, en hy is in een woord wonderlik.

Toe die plaat afgeloop was, sê ons musikale vriend: „Ons het nou genoeg van sulke rubbish gehad, laat ons nou weer musiek maak!” met[36] die nadruk op musiek. Ek moes nou òf praat òf ontplof. „Jou verwaande esel,” bars ek los, „as jy ook maar ’n greintjie verstand had, dan...”

„Hendrik,” val my vader my in die rede, „gedra vir jou of verlaat die kamer.”

Dominee, ek het die kamer verlaat en so ampertjies die plaas ook. Maar my moeder, wat my na my kamer gevolg het, het so mooi gepraat dat ek om haar ontwil aangebly het. Van dié tyd af het ek die kuiergas vermy.

Vir ’n paar maande het dit goed gegaan en het ek die voorvalletjie al amper vergeet, toe daar een aand ’n konsert op X was, waar die vryer ook sou sing. Die hele famielie sou dorp-toe gaan vir die konsert, en ek moes die moter drywe.

Soos die toeval dit wou hê, moes ek juis daardie aand ’n ou kennis uit Londen ontmoet wat met die pouse by my aandring om saam met hom iets te gaan drink. Hoe ek ook al teëpraat, hy wou g’n weiering aanneem nie, en onder die verstandhouding dat ek net iets ligs sou gebruik, gaan ek uiteindelik saam.

Die bar was vol konsertgangers, waaronder ook ons musikale vriend. Hy het my binnekoms nie opgemerk nie. Om hom staan ’n[37] klompie van sy drinkbroers, en elke keer skree hulle dit uit van die lag.

„Ou Hendrik,” sê hy tot vermaak van sy maats, „doen sy uiterste om daardie dogter van hom aan my af te smeer, en sy ouvrou is eintlik lastig. Sy seun, soos julle weet, is somar ’n sujet en ’n niksnuts, en sy dogters van dié soort wat om enige jongkêrel se nek sal val.”

„Wat sê jy daar?” vra ek terwyl ek vorentoe stap.

„Dè, jou plaashotnot!” skree hy en hy gooi sy glasie whiskey in my gesig, terwyl sy maats dit uitgil van hilariteit.

Dis seker onnodig vir my om te vertel dat hy na die pouse nie verder kon deelneem aan die konsert nie, of dat hy die volgende dag nog nie sy oë kon oopmaak nie.

Soos ’n vuurtjie in die lang gras het die nuus versprei dat ek ons kuiergas ’n pak slae in die bar toegedien het, en ek het rede om te glo dat die meeste inwoners van X baie bly daaroor was. Maar my vader was ’n ander sienswyse toegedaan. Hy wou eenvoudig na g’n uitleg luister nie en wou g’n rede verstaan nie.

„Jy stink weer na die vervloekte drank,” snou[38] hy my toe. „Maak dat jy vir ewig uit my gesig wegkom. ’n Dronklap van ’n seun wat soos ’n straatboef in kantiene baklei, wil ek nie erken nie. Trap!”

Ek het wel na drank geruik, maar dit was die vryerman se whiskey wat hy op my uitgesmyt het; self het ek niks gedrink nie. My moeder wou nog as middelaar tussenbei kom, maar ook sy word beveel om stil te bly. Toe verloor ek my kop en het my vader dinge toegevoeg wat onbetaamlik was vir ’n seun. Die volgende dag het ek van die plaas af vertrek en rondgeswerwe totdat ek hier aangeland het.

„Die drank moes my die verlede laat vergeet, en nou is ek sy slaaf. Kan jy my regtig help, Dominee?” en Hendrik se stem was diep ernstig.

„Ja, Hendrik, met die hulp van Bo sal ek jou help,” sê die dominee op so ’n toon dat die dieps-gesonkenste moed sou geskep het. „Maar eers moet ons jou onder die drankduiwel se mag uitkry, en daarom gaan jy van nou af aan as my broer by my in die tent bly.”

In stilte gee ek die dominee en Hendrik ’n handdruk en vertrek.

„Dis waar,” peins ek op die pad huis-toe, „party mense moet deur dieper waters gaan as ander.”

[39]

IV.
’n Epidemie van Maagkoors en Slot.

Die eerste somerreëns het geval, en die vaal vlaktes het al so ’n ligte groen skynsel begin te wys. Die delwer se waterrekening, wat nog al ’n aansienlike sommetjie elke maand bedra, sal nou weer aanmerklik minder wees, want elke uitgewerkte kleim het vol gereent.

Nou is dit juis die tyd van die jaar wat ’n mens nie te versigtig kan wees met betrekking tot jou drinkwater nie, want byna elke dammetjie staande water is besmet. Maar die delwer dink selde daaraan om sy water te kook; hy het nie die tyd en die geleentheid daarvoor nie, en brandhout is ’n baie skaars artiekel op die diekens.

Die distriksdokter het sy hoof bedenklik geskud. Hy was ’n dag of wat gelede ingeroep na drie siekes in een tent, en sy diagnose in ieder geval was gewees: maagkoors.

„As daar nie ’n groot verbetering aangebring word wat sanitasie en drinkwater betref nie, dan gaan julle ’n epidemie van maagkoors hier op[40] die delwerye hê,” het hy by daardie geleentheid met nadruk aan die delwerskomitee gesê.

Maar hoe op aarde gaan jy behoorlike gesondheidsmaatreëls neem in so ’n gemeenskap? En waar gaan jy skoon drinkwater kry vir vier- of vyfduisend mense?

Die delwerskomitee het wel sy bes gedoen, maar die epidemie het tog uitgebreek. Nou was dit werklik ’n naarheid op Diamantkuil. Hele huisgesinne lê plat aan die gevreesde siekte, en daar is g’n hospitaal waarin hulle kan verpleeg word nie. Die twee dokters van Smartendal het gedoen wat hulle kon, maar wat vermag twee geneeshere in so ’n geval?

Soos ’n dienende engel het ds. Evertse van tent tot tent en pondokkie tot pondokkie gegaan. Hier het hy enkel ’n gebed gedoen, daar het hy verpleeg, elders het hy bestraf, en weer op ’n ander plek het hy dooies die laaste eer bewys en help begrawe. Hy was onvermoeid en met bo-menslike krag het hy volgehou.

En Hendrik Blits?—Waar die dominee nie meer kon werk nie, het hy gaan help en sy kennis van medisyne het hom goed te stade gekom. G’n hut of krot was vir hom te vuil om te besoek[41] nie; oral het hy ingekruip om sy dienste aan te bied. Toe die dominee hom waarsku om homself ’n bietjie meer in ag te neem, was sy enigste opmerking: „Ek het baie verlore kanse om in te haal!”

Onder die krankes was onder meer ook Groot Lawaai. Die dominee kon niemand kry om hom te gaan verpleeg nie. Die mense was bang vir hom, en party delwers het openlik gesê dat hul hoop hy sou vrek.

„Hendrik,” sê ds. Evertse een aand, „ek kom nou net van Groot Lawaai af. Hy is allerellendigs en het niemand om hom te verpleeg nie. Ek het gewonder of jy miskien sou wil gaan?” En hy kyk hom vas in sy oë. Hendrik laat sy hand oor die litteken op sy gesig gly, en vir ’n oomblik blits sy oë. Op die dominee se aangesig is verleentheid duidelik leesbaar. Hendrik merk dit op en met ’n glimlag sê hy: „Ek sal gaan, Dominee, ek sal gaan. Hy sal vir my ook beter luister as vir enig iemand anders.”

Die epidemie word nou so kwaai dat dit eindelik die aandag van die outoriteite trek. Verpleegsters word afgestuur na die delwerye, ’n paar dokters kom saam, en drie of vier groot[42] markeetente word as tydelike hospitale ingerig. Nou gaan dit beter, en kon die dominee en Hendrik sowel as die ander helpers ’n bietjie asem skep. En dit was hoog tyd, want die dominee was klaar, en Hendrik self het die laaste paar dae al geweet dat hy die siekte onder lede het.

„Ai! Dominee,” sug hy toe Groot Lawaai buite gevaar was, „nou moet ons twee darem ’n bietjie gaan rus. Wat myself betref, ek voel of ek vir altyd kan gaan slaap!”

Die predikant skrik toe hy Hendrik se doods-bleek gelaat sien en die koorsgloed in sy oë. Hy gryp sy hand, voel sy pols, en daar was ’n moeder se besorgdheid in sy stem toe hy sê: „Kom, Hendrik, nou moet jy gaan rus.”

Die volgende dag was Hendrik deurmekaar.

„Hy het te lank gewag voordat hy bed-toe gegaan het,” was die uitspraak van die dokter, „en sy gestel is so afgesloop dat ek die ergste vrees.”

In die hospitaal-tent het hulle vir Hendrik alles so gerieflik moontlik ingerig, en die verpleegsters het gedoen wat hulle kon vir hierdie pasjent. Aandoenlik was dit om te sien hoedat[43] delwers wat hom vroeër kwaadgesind was, nou met ontroerde gesigte elke môre en aand na sy toestand kom verneem, en die getrouste onder hulle was Groot Lawaai, die baster.

„As hy famieliebetrekkings het wat hom graag voor sy dood wil sien,” het die dokter aan die dominee gesê, „dan moet u hulle ontbied. Hy sal dit nie lank meer maak nie. Lewe sy ouers nog miskien?”

„Ja, Dokter.”

„Nou laat hulle seker kom. Hendrik vra al na sy vader vir die laaste week. Hy hou aan hy wil hom met sy vader versoen, en dis maar die beste om hom sy sin te gee,” sê die dokter.


’n Paar dae later staan sy ouers om sy bed. Hendrik is by sy positiewe, maar uiters swak. Hy ken hulle, en ’n tevrede glimlag speel om sy mond. Sy vader vat sy een uitgeteerde hand in syne, en sy moeder die ander een in hare. Op oom Hendrik se gesig staan vaderlike trots geskrywe, want die dominee het hom en sy vrou reeds kortliks van Hendrik se reformasie en sy selfopofferende liefde-arbeid vertel. Maar die moeder se oë is vol trane, en in haar hart die[44] volheid van liefde wat ’n moeder alleen beskore is.

„Ek het jou alles vergewe, my kind, en my hart brand van verlangste om jou as seun in my huis terug te verwelkom,” fluister die vader in sy oor. Hendrik knik nouliks sigbaar met sy hoof, en toe sy moeder hom saggies op sy voorhoof soen, rol daar ’n traan oor sy wange.

„Dis nou genoeg opwinding vir vandag,” en die dokter stap vorentoe. „Hy is nog nie dood nie, en so lank soos daar lewe is, is daar hoop op herstel.”

Ons sal nie die dae en nagte van hoop en teleurstelling, van angs en benoudheid beskrywe nie. Dit het lank geduur, en meer as eens het sy lewe aan ’n draadjie gehang, maar eindelik het die siekte ’n gunstige wending geneem en het Hendrik tog gesond geword.

„Uit die dood teruggekeer,” het die dokter verklaar, en hy was reg ook. Niemand behalwe die skrywer weet watter worsteling in die gebed die dominee in sy tent deurgemaak het nie.

Dis g’n oordrywing as ek sê dat daar uit vyfduisend harte op Diamantkuil ’n sug van dank na Bo geslaak is vir Hendrik se herstel nie. En[45] toe die dominee kort voor sy vertrek ’n dankdag bepaal, omdat die epidemie verby was, het elke man, vrou en kind wat daartoe in staat was, opgekom. Opmerklik was dit hoe baiekeer Hendrik se naam in die dankgebede voorgekom het.

Dominee Evertse is terug in sy pastorie op Smartendal, en Hendrik het saam met sy ouers huis-toe vertrek, dog nie om te gaan boer nie. Hy het teruggegaan Uniwersiteit-toe, het sy mediese studies voltooi en is vandag een van die knapste geneeshere in Suid-Afrika. Die armes en veral die delwersbevolking geniet sy besondere aandag, en die skrywer ag dit ’n besondere eer om onder sy vriende getel te word.


[46]

OOM PIET LEGRANSIE.

„Ja, neef; drie jaar se droogte, drie jaar se sprinkane, drie jaar se misoeste en daardie borgstaan vir Freek Willemse het vir my gerinneweer.”

Oom Piet Legransie was eers ’n welgestelde boer gewees en seker een van die mees gasvrye in Westelike Transvaal. Meer as een genoeglike aand het ek by oom Piet deurgebring as ek moeg was van ’n hele dag se inspeksie en die lus my ontbreek het om nog dieselfde dag verder te ry. Ek wis dat ek altyd welkom was op Welgevonde. Hierdie goeie oom en sy vrou het die slag verstaan om iemand by hulle tuis te laat voel. Daar was niks van die onnodige rondvallery en ekskuusmakery wat ’n mens net laat voel dat jy tot oorlas is nie. Jy was vry om te doen wat jy wil, en die oubaas het die kuns meesterlik verstaan om die onderwerp van die gesprek so te kies dat almal kon saampraat en sy gas nie nodig het om alleen die diskussie aan die gang te hou nie.

[47]

Verlede jaar het ek nog op Welgevonde vernag, en nou, elf maande later, ontmoet ek vir oom Piet toevallig op Kreepoort, een van die jongs-geproklameerde delwerye.

„Maar hoekom het Oom dan nie vir my van Oom se moeilikhede vertel toe ek laas by Oom was nie? Ons is mos tog ou vriende, en moontlik kon ons saam ’n plan gemaak het. Of miskien kon ek vir Oom met geld gehelp het!”

„My goeie neef, wat sou dit gebaat het? En waarom sou ek jou ook in die ongeluk saamgesleep het? Nee, neef, Piet Legransie het darem nog ’n bietjie selfrespek oorgehou.”

Om die gesprek ’n ander wending te gee vra ek nou: „En betaal die delwery-besigheid nogal?”

„Betaal? vra jy, neef. My liewe vriend, jy is tog al lank genoeg in Smartendal om te weet hoe dit met die meeste delwers gesteld is. Kyk, neef, ek sou nooit my toevlug hiernatoe geneem het nie, as ek kans gesien het om op ’n ander manier my kos te verdien nie; maar ek is nie meer jonk nie en het nie kans gesien om êrens anders ’n heenkome te soek nie. Dit gaan hel hier, neef; hel, sê ek.”

Dit was snaaks om hierdie woord uit oom Piet[48] se mond te verneem. Gewoonlik was hy besonder kies wat sy taal betref, en onder normale omstandighede buitengewoon gesteld op sy uiterlik. Maar nou lyk die oubaas net soos die meeste delwers: bruin van die stof, bruin gebrand en ongewas, en hy het nie juis geskroom om te swets nie.

„Maar Oom, as dit hel gaan, waarom bly Oom dan op die delwerye?”

„En waar moet ek anders heen? Na die dorp, om daar rond te slenter en heeldag by die pastorie om aalmoes aan te klop? Of na die Dam om daar onder ’n voorman te werk? Ek, wat nog altyd my eie baas was, sal onder ’n ander gaan buk! So nooit as te nimmer nie! Nee, neef, wragtag nooit nie! Ek vergaan soms byna van die honger, maar hier is ek tog my eie baas. My kleim is wel klein, maar hier is ek baas!” herhaal die ou.

„En hoelank is Oom al hier op Kreepoort?”

„Môre ag maande.”

„Al iets gekry?”

„Net eenmaal ’n twee-carat, waarvoor ek £20 gekry het, en laas week ’n carat wat gespot was[49] en net £3 gefetch het,” antwoord oom Piet in die taal wat alle delwers eie is.

„En hoe lewe Oom dan?”

„Ek lewe nie, man! Ek bars; ja, op my oudag bars ek! Vir die laaste drie maande eet ek aldag mieliepap, en dit sonder melk of suiker, en ons koffie is al meer as ses weke gelede gedaan. Ek het al vergeet hoedat vleis en brood smaak. Neef,—en hier laat oom Piet sy stem sak,—neef, as dit nie vir my vrou was nie, dan bring ek myself om die lewe!”

„Maar Oom, is tant Lenie dan ook hier? Ek sou haar baie graag wil besoek en ’n handdruk gee.”

„Nou stap dan saam.”

Ons vleg ons pad deur uitgewerkte kleims en oor hope dooie grond en gruis, tussen pondokkies van sink en streepsakke deur, tot oom Piet eindelik voor ’n krot stilstaan wat nog omtrent die armoedigste is wat ek ooit gesien het.

„Kruip maar in, neef,” sê hy.

Binne voor ’n tafeltjie sit tant Lenie. Ek sou haar nooit herken het nie. Uitgeteer en spierwit, ’n toonbeeld van ly en swaarkry.

„Dag, tant Lenie, en hoe....” maar verder[50] kon ek dit nie bring nie; daar was ’n knop in my keel wat ek nie kon afsluk nie. En toe tant Lenie haar oë op my rig, moes ek al my wilskrag in beoefening bring om nie soos ’n kind my te gedra nie. O! die weemoed en die wêreld van geduldig ly en hartseer wat uit daardie oë spreek!

„Dag, neef. Ek is spyt dat ek jou nie kan welkom heet soos in die goeie dae van Welgevonde nie; maar soos jy sien, het ons dit nie alte breed nie,” met ’n gedwonge glimlag. „Ek word die lewe hier nogal op ’n manier gewoon, maar my ou man kan hom maar nie na hierdie omstandighede skik nie.”

Geen sug van ontevredenheid nie; geen sweem van murmurering nie; geen woord van verwyt aan haar man nie, wat teen haar raad en sin vir Freek Willemse destyds gaan borg teken het. Dis alte waar, die adel van die siel blink des te skoner uit onder teenspoed. En tant Lenie was van kinds af aan die beste gewoon gewees.

Ek het nie alte lank vertoef nie; my gemoed was te vol; ek kon nie vandag met die oumense gesels nie. Al die tyd wat ek daar was, het net die een gedagte my besig gehou: wat kan[51] ek doen om die goeie mense uit hulle ellende te help?

„Nou ja, dag tant Lenie. Ek hoop die Here sal uitkoms gee! Dag, oom Piet!”

Tant Lenie stamel ’n dankie uit, maar oom Piet sê: „Wag, neef, ek stap saam tot by jou moter.”

Onder die loop bars hy uit: „Kyk, ons moet mekaar goed verstaan. Jy het ons nou in hierdie toestand aangetref, maar onthou dat nòg tant Lenie nòg ek van enige persoon ter wêreld aalmoes sal ontvang, en van liefdadigheid wil ons nie lewe nie, gehoor! En wat jy daar sê van die Here, neef, en uitkoms, is pure bog. Ek glo nie die Godheid bekommer Hom in die minste oor ons nie!”

„Maar Oom wil tog nie sê dat al die jare van huisgodsdiens en gebed en kerkdiens alles skyn was nie? Oom was dan tot twee jaar gelede nog ouderling van Smartendal se kerk!”

„Dis waar, neef, dis waar, maar toe het ek nie deurgemaak en geweet wat ek nou weet nie. Toe het alles voorspoedig gegaan en het die hele affêre ’n sweem van waarheid en wesenlikheid gedra, om nie eers van fatsoenlikheid te[52] praat nie. Ons hele godsdiensgedoente pas pragtig vir ryk en fatsoenlike mense, maar in die kerk is daar nie plek vir my en my gelykes nie. Sit daar een werklike arm man in die ouderlings- of diakensbanke? Ek glo nie dat God so ’n danige liefdevolle Wese is nie, dè!” ... En nou raak oom Piet sulke profane dinge kwyt dat ek dit liewer nie sal te boek stel nie.

„Maar, Oom, kyk hoe dit met Job gegaan het! Hoe die Here hom uitgehelp en...”

„Nonsens, neef,” val die ouman my vererg in die rede, „alles blooming nonsens. Wat het ek vir die Here gemaak dat Hy my nou op my oudag hier op die delwerye moet laat vergaan van ellende en armoede? As Hy dan tog vir my wil vernietig, waarom slaan Hy my dan nie somar op die plek dood nie? Liefdevol? Ek sal wragtie my hond nie so laat ly nie. En dan kom jy ook nog met jou vroom praatjies aangeloop! Ek herhaal, neef, dus alles pure bog en nonsens. As daar ’n Here is, dan gee Hy nie ’n dem vir ons om nie en kan dit hom weinig skeel wat van ons word.”

„Maar Oom, is dit nie ’n bietjie onbillik om die hele godsdienskwessie as nonsens te bestempel[53] eenvoudig omdat die teenspoed en onheile Oom so getref het nie? Oom was mos altyd baie regverdig in Oom se oordeel, en....”

„Regverdig! billik!” val hy my in die rede. „Asof daar so iets bestaan. Kyk vir Freek Willemse, wat my so in die verderf gestort het, hoe goed doen hy vandag. Ek weet nie wanneer hy laas ’n blink geloop het nie. Almal weet hy is ’n skelm van die eerste water; dat hy diamante van die kaffers koop, en tog word hy nooit getrep nie. En dan daardie Sieriër Gias! Hy lieg en bedrieg en verkoop ontwettig drank aan die kaffers en hy ry in ’n duiwelse mooi moter rond. En daar is Jim ... maar wat sal ek hulle nou algar opnoem; daar is nog dosyne van hierdie kalieber. Hoekom straf die regverdige God nie vir hulle nie? Waarom moet Hy nou juis vir my uitsoek?....”

Hier breek die oubaas se woordevloed so effentjies af. „Ja, dat Hy vir my opdreun, kan ek nog verstaan, maar watter kwaad het my vrou ooit vir Hom gedoen dat sy so swaar moet kry?” Hier breek oom Piet se stem en swyg hy skielik.

„Dag, oom Piet,” en ek vat my ou vriend se[54] hand. „Ek veroordeel Oom nie; ek kan my ook beswaarlik in Oom se toestand indink. Maar ter wille van tant Lenie sal ek darem, as ek in Oom se plek was, my oordeel oor die Voorsienigheid ’n bietjie matig. Miskien sal Oom nog later ondervind: „Want die Hy liefhet, kasty Hy.”

Eers was dit my plan om somar reguit dorp-toe te ry, maar opeens skiet die gedagte my te binne dat dit nie kwaad kan doen as ek Freek Willemse ’n besoekie gaan bring nie.

Hierdie tiepe van man is glad nie onbekend op die delwerye nie. Gewoonlik tref ’n mens hom aan in rybroek en kamaste, en op sy aangesig is al die laer hartstogte te lees, terwyl sy oë beslis weier om dié van ’n ander te ontmoet.

Freek Willemse staan voor sy biljartkamer toe ek daar stilhou. Hy was nie slegs delwer nie, maar het ook ’n kafè en ’n biljartkamer daarop nagehou.

„Mag ek jou ’n oomblikkie alleen spreek?” vra ek beleefd.

„En wat wil jy van my hê?” was die antwoord op ’n taamlike onbeskofte manier.

[55]

„As jy my die kans wil gee om alleen met jou te praat, dan sal ek jou nuuskierigheid gou genoeg bevredig,” sê ek weer. „Kom sit hier op die kar langs my, dan kan ons ongestoord gesels.”

Die vent se hele houding was dié van ’n roofdier. Hy loop nie, hy sluip; hy kyk nie voor hom nie, hy loer rond; hy praat nie, hy blaf of hy knor.

Eindelik kom hy nader en klim op die moter, maar kom nie voor by my sit nie. Hy plak hom agter in die kar neer en so naby die deurtjie as moontlik, terwyl sy een been by die oop deurtjie uithang.

„Toe, roer nou jou bek en wees baie haastig, want my masien loop en ek wil gaan kyk of die kaffers nie verneuk nie!”

„Nou ja, Willemse, ek het vir jou kom besoek om te hoor wat jou plan is met daardie £1500 wat jy vir oom Piet Legransie skuld. Dit lyk aan alles of jy baie geld maak, en die oubaas en sy vrou vergaan van ellende. Jy sal seker graag nou vir hom iets wil doen, aangesien dit aan jou te wyte is dat hy vandag uit sy grond geraak en alles verloor het.”

[56]

„En wat die hel gaan dit jou aan? As dit die oorsaak van jou besoek is, dan hoe gouer jy trap hoe heilsamer dit vir jou bas sal wees!” En hy maak aanstalte om af te klim.

„Wag ’n bietjie, ou vriend,” sê ek sonder om my aan sy taal te steur, „wag ’n bietjie. Moenie alte haastig wees nie, anders kan jy maklik jou bas in gevaar bring!” En hier wend ek ’n bietjie bluf aan. „Of jy sal jou skuld by oom Piet vereffen, òf ek gaan nou aan die speurders vertel wat ek weet!”

Ek wis eintlik niks definitiefs nie, maar kon sien die skoot was raak. Die gewone man sou waarskynlik niks gemerk het nie, maar ek het die krampagtige inkrimp van sy ooglede raakgesien. Sy ogies word nou al nouer.

„En wat weet jy dan so danig?” vra hy terwyl al sy botande wys.

Hy praat nou al in ’n heel ander toon as van te vore.

„Dis my saak, Willemse, maar dis die vraag of oom Piet sal tevrede wees om sy mond te hou. Hy weet nog heelwat meer as wat ek gehoor het.”

[57]

Die vent se hele houding het nou ’n verbasende metamorfose ondergaan. Hy was nou nie langer die blufferige, onbeskofte meneer van flussies nie; hy was nou die onderdanigheid self.

„Nou ja, hoe sal dit wees as ek vir oom Piet £10 in die maand afbetaal?” vra hy.

„Kyk, dis vir oom Piet om te besluit. Ek gee aan die hand dat jy die oubaas vanmiddag nog gaan besoek om met homself reëlinge te tref. Maar maak gou; môre kan dit miskien te laat wees.” En met hierdie woorde druk ek die selfaansitter van my kar as teken vir Willemse dat die onderhoud afgeloop was.

II.

’n Paar maande later het my werk my weer op Kreepoort gebring. In die loop van die agtermiddag het ek vir oom Piet gaan besoek. Tot my aangename verrassing was hy nie in sy ou krotjie te vinde nie. Na ondersoek blyk dit dat die oubaas nou in Freek Willemse se huisie woon.

[58]

Toe ek voor die deur stilhou, staan oom Piet op die stoep.

„Dag, neef,” roep hy, en sy stem klink al amper weer net soos vanselewe.

„Dag, Oom, en hoe het Oom dan nou in hierdie huis te lande gekom?”

„Ou neef, dis ’n lang storie. Klim af, kom binne, drink ’n lekker koppie koffie en dan kan ons gesels.”

Ek het my nie tweekeer laat nooi nie. Ons het skaars gesit of tant Lenie, wat nou ook weer goed ’n tien jaar jonger lyk, bring twee geurige koppies koffie binne. Op haar gesig was duidelik te lees dat daar ’n radikale verandering in die lewe van die twee oumense plaasgevind het.

Na ’n rukkie begin oom Piet:

„Na jou vertrek twee maande gelede het ek werklik nie die moed gehad om volgens gewoonte na my pondokkie terug te gaan nie. Mismoedig en troosteloos het ek op die was wat ek opgemaak het, gaan sit en die dag van my geboorte verwens. Ek kan nie onthou dat ek al ooit van te vore so sleg gevoel het of so ontevrede met my lot was nie. Meteens hoor ek voetstappe kort agter my. Ek draai my om[59] en kyk in die skelm oë van die man wat ek die allerminste sou verlang het om te sien. Neef, ek moet erken dat al die onderdrukte hartstogte van die laaste ag maande my in ’n oogwenk oormeester het, en as daar ’n wapen op die oomblik binne my bereik was, sou ek ’n moord begaan het. Ja, as Freek my ook in die minste beledigend aangespreek het, soos hy in die laaste tyd nooit nagelaat het om te doen nie, dan sou ek hom daar en dan op die plek verwurg het. Begryp dus my verbasing toe hy ewe saggies—ten minste so vals vleiend as hy kon—vir my goeiendag sê en na my welstand en dié van tant Lenie verneem. Ek was so uit die veld geslaan dat ek niks kon antwoord nie.

„Is dit nou weer een van Freek se skelmstreke? dog ek by myself, en opnuut sien ek net rooi.

„‚Kyk hier, Freek, as jy weer gekom het om met my te spot en jou in my ellende te verheug, dan hoe gouer jy jou pestelike teenwoordigheid hier verwyder hoe beter, anders begaan ek so waaragtig as wat ek lewe vandag ’n moord!’

„Maar Freek bly maar staan, en hoewel hy so effentjies bleker word, gaan hy voort: ‚Nee,[60] Omie, ek kom nie spot nie; ek kom besigheid praat.’

„‚Besigheid!’ skree ek; ja neef, ek het nou nie meer gepraat nie. ‚Besigheid! Jou godvergete niksnuts! Praat jy van besigheid met my wat jy tot die bedelaarstaf gebring het! ... Vrou!’ brul ek, en my stem het vir my eie ore vreemd geklink, ‚Vrou, bring hier die roer; hier is ’n duiwel en ek wil hom hel-toe stuur, waar hy tuis hoort!’

„Neef, ek wens jy kon Freek se gesig toe gesien het. Al die sluheid het soos ’n toorslag daarvan verdwyn en plek gemaak vir bange vrees. Die vent was op daardie oomblik nog afskuweliker as die lelikste onder die beeste. Wat praat ek van beeste? Dis ’n belediging vir die diere om die laagste onder hulle met so ’n skepsel te vergelyk.

„Op hierdie moment verskyn my vrou op die toneel, anders huiwer ek om te dink wat sou gebeur het. Jy weet sy het altyd ’n kalmerende invloed op my, neef. Sy is ’n engel, neef, en sy hoort nie op die aarde tuis nie. Ek wonder wat sy ooit in my kon gesien het om met my te trou? Haar gelyke loop daar nie op hierdie[61] wêreld rond nie. Maar, neef, ek dwaal af van my storie. So gaan dit altyd as ek van tant Lenie begin te praat. Jy weet, neef...”

„Ja, Oom, ek weet daar is maar net een tant Lenie op hierdie ou aardbol. En wat maak Oom toe?”

„Toe maak ek niks, neef. Wat kon ek maak met daardie verwytende blik van tant Lenie op my gerig? Soos ek reeds hierbo opgemerk het, neef, is sy mos nie ’n gewone mens nie en....”

„Ja, Oom, sy is ’n engel. Maar wat het Freek toe gemaak?”

„Freek het ook niks gemaak nie, neef; hy het net sy droë lippe natgelek en toe stamel hy voordat ek nog weer die woord kan kry: ‚Maar oom Piet, ek kom met Oom reëlinge tref oor die afbetaling van die £1,500 wat ek aan Oom skuld!’

„Ek kon maar nog nie glo dat Freek dit opreg meen nie en wou net vorentoe spring om hom aan sy strot te gryp, toe ek weer daardie selfde verwytende blik van tant Lenie gewaar. Neef, het jy al ooit ’n vrou met sulke oë gesien? Die diepte van die hemel en die teerheid van...”

„Ja, Oom, dis waar. Tant Lenie het wonderlike[62] oë, maar Oom het laas opgehou by Freek se strot en die kontras tussen tant Lenie se hemelse oë en....”

„Ja, neef, dis ook waar; ek dwaal alte maklik af as ek van tant Lenie praat.”

„‚Gee vir Freek ’n kans om te sê wat hy te vertel het, en bedwing jouself, Piet,’ sê tant Lenie op daardie sagte dog gebiedende toon wat haar alleen eie is. Jy weet, neef, ek glo nie daar is nog ’n vrou met so ’n stem soos tant Lenie nie. As sy praat dan....”

„Dan moet Oom stilbly. Maar het Freek toe besigheid gepraat?”

„Hy het, neef. Hy transporteer sy huisie, sy biljartkamer en sy kafè op my naam, en boonop betaal hy my £500 kontant as ek wil afsien van die £1,500 wat ek indertyd vir hom moes inbetaal en my mond wil hou. Wat hy met die laaste sin bedoel, weet ek nie, want ek het buitendien nooit oor hierdie ou transaksie gepraat nie. Maar ek het darem belowe.

„Ek wou eers nie sy geld en goed vat nie, en was dit nie dat ek voor my oë gesien het hoedat tant Lenie by die dag agteruit gaan nie, dan het ek hom eerder by die gruisgat afgeskop. Maar[63] die gesondheid en die welstand van tant Lenie het die deurslag gegee en ek het sy aanbod aanvaar.

„Maar, neef, weet jy miskien wat Freek beweeg het om dit te doen? Dis opmerklik dat dit juis gebeur het op die dag van jou besoek.” En hier kyk oom Pieter my so stip in die oë dat my gesig amper die geheim verklap het.

„En wanneer is Freek dan toe weg van Kreepoort af?”

„Ek sal vertel, neef. Ja, die arme Freek het dit die laaste week voor sy vertrek maar smoor gehad hier op die delwery. Het jy al gehoor hoedat Jan Pieterse, sy voorman, hom deur-geloop het? Ek het nie, sê jy. Maar man, dan was jy amper een van die beste grappe kwyt wat hier ooit plaasgevind het... Het jy al ooit opgelet hoe daar in party diere meer karakter sit as in ander van dieselfde soort? Ek herinner my nog goed dat my pa twee osse gehad het: die een was ’n skoorsoeker van die eerste water en baie parmantig, maar by die werk het hy maar min beteken en het hy geen hart gehad nie, terwyl die ander weer goed van[64] geaardheid was en ’n baastrekker. Jentelman was ’n vooros en, soos ek reeds aangemerk het, ’n staatmaker. Net agter hom het Koerland getrek, wat dit nooit kon nalaat om Jentelman net wanneer hy die kans kry ’n gevoelige stoot met sy skerp horings te gee nie. In die veld het Jentelman gewoonlik padgegee, maar in die juk was dit natuurlik buite die kwessie, en ek het al die idee begin te kry dat die vooros maar ’n bangbroek was. Op ’n goeie dag het ons gebraak en die osse het noustrop getrek. Elke keer by die draai moes die arme Jentelman dit ontgeld en die skerp horings van Koerland voel. Om twaalfuur word afgehak om die osse ’n paar uur rus te gee. By so ’n geleentheid gee Jentelman gewoonlik ver pad vir Koerland en gaan hy rustig op sy wei, maar vandag kon ’n mens somar aan sy hele houding sien dat sy geduld uitgeput was. Om ’n lang storie kort te maak: Koerland het die eerste die beste kans gevat om Jentelman ’n gevoelige stoot in die ribbekas te gee. En toe was die gort gaar. Jentelman spring om, en daar is die twee diere aanmekaar. Koerland kon vir ’n maand lank nie ploeg trek nie.

[65]

„Nou, neef, so wou ek maar sê is dit by die mens net soos by die dier; en jy wat so baie met mense te doen het, sal dit wel self al opgemerk het. Ek wou maar net duidelik gemaak het dat Jan Pieterse my altyd aan Jentelman, en Freek Willemse my aan Koerland laat dink het.

„Baiekeer as ek verby Willemse se kleim stap, het ek moes aansien en aanhoor hoe Freek die arme Jan Pieterse boelie. Ek het dié Jan bewonder vir sy geduld en verdraagsaamheid, maar in my hart het ek hom tog as lafaard bestempel.

„Een agtermiddag moes ek daar weer verby en hoor hoe Freek die arme Jan slegsê en uitvloek. Dit was net die dag na hy sy huisie en die ander twee geboue op my getransporteer het. Jy weet mos hoe praat Freek, nè, as die duiwel in hom gevaar het. Hy begin daaronder in die diepte, en sy stem klim altoos hoër en hoër totdat dit eindelik in ’n langgerekte gehuil—soos dié van ’n nadroejakkals—wegsterf. Nie tevrede om Jan uit te maak vir alles wat laag en gemeen is nie, en dit nogal in die teenwoordigheid van die kaffers, spring hy naderhand af in die kleim waar Jan en die volk werk, en gee sy[66] voorman ’n raps met sy handsambok dwars oor sy kop. Neef, glo my as ek jou sê, dit was weer ’n Jentelman en ’n Koerland wat ek daaronder in die kleim sien, maar net baie komiekliker. In ’n kits het Jan Pieterse die handsambok uit Freek se hand geruk en looi hy Freek net so lustig as hy kon. Dit het Willemse nie verwag nie, en soos ’n kat probeer hy by die kleim uitklouter sonder om hom in die minste te versit. Jy weet die gruis hierlangs sit baie diep, nè. Elke keer nes Freek amper bo is, gryp Jan hom aan die voet met die linkerhand, en terwyl hy hom aftrek na onder, steek hy hom los met die regterhand. Die kaffers skree dit uit van louter vreugde, en die toeskouers, wat nou al aansienlik in getal aangegroei het, hou hulle sye vas soos hulle lag. Dit was rêrig te komiek!

„Freek het die dag na die pak spoorloos verdwyn, en niemand weet wat van hom geword het nie. En dit was ook maar die beste wat hy kon gedoen het, want sy dae op Kreepoort was getel. Buitendien glo ek dat die poliesie ook vir hom soek, want hulle vertel dat hy ’n hele reeks misdade op sy kerfstok het. Maar neef, verveel ek jou nie?”

[67]

„Nee, glad nie, Oom. Inteendeel, daar is nog iets wat ek darem graag van Oom wil geweet het. Ek kon nie help om op te merk dat Oom se taal nou heelwat.....”

„Sê maar gerus fatsoenliker,” val die oubaas my in die rede.

„Ja, Oom, fatsoenliker en beskaafder is as twee maande gelede. Het Oom dan al so gou weer Oom se oordeel oor die Voorsienigheid gewysig, en moet ek dit toeskrywe aan die meer gegoede omstandighede waarin Oom nou verkeer?”

„Neef, ek het gehoop dat jy my hierdie verklaring sou spaar, want ek praat liewers nie oor hierdie saak nie. Kyk, laat ek dan somar van die staanspoor af sê dat ek my skaam dat ek my daardie dag so vergeet het in jou teenwoordigheid. Maar neef, ek was in elk geval eerlik en het toe gepraat soos ek in daardie dae gevoel het. Man, toe die teenspoed my tref en ek in daardie ellende verkeer, het ek vir die eerste keer besef hoe ’n skynheilige lewe ek van te vore gelei het. Al my vroomheid was niks anders as selfbedrog gewees nie; en ek bloos om[68] dit te getuig, maar my ouderlingskap en huisgodsdiens en gebede was alles skyn. Toe daardie mantel van geveinsdheid in die diepte van my ellende van my afval, staan Piet Legransie in al sy naaktheid daar, en toe sou ek eers besef hoe werklik bedorwe ek was. Dit was net in daardie tyd wat jy my op die delwerye raak-geloop het, en jy sal miskien nou beter my taal van toe kan verklaar. Maar ek dwaal af. Kyk, ek wil nie ons kerk blameer nie, maar dit lyk tog vir my of dit alte gemaklik is om lid te word of as ouderling en diaken te dien. Ek glo ons Dominee noem die lede van my soort: mooiweer-kristene, en hy is reg ook. Maar ek wonder tog of hy sou weet hoeveel van my soort daar nog in sy kerk is?...

„Daardie aand na Freek Willemse weg is en ek as deur ’n wonder uit my haglike toestand gered was, het tant Lenie met my gepraat soos sy nog nooit van te vore gedoen het nie. Ek mag nie vertel wat daar alles plaasgevind het nie, maar ek het my opnuut leer ken soos ek is en nie soos ek graag in die oog van die wêreld wil lyk nie. En jy weet, neef, dit beteken vir ’n mens al ontsaglik baie. Ek sien jy word[69] haastig. Met jou verlof sal ons hierdie saak nooit weer aanroer nie.”

By myself dink ek hoe goed dit sou wees as meer mense, waaronder die skrywer, hierdie ware selfkennis besit.

„En gaan Oom nou vir altyd op die delwerye bly?”

„O nee, neef! Sodra ek ’n koper kan kry vir hierdie ongewenste beslommering wat ek die trotse eienaar van is—met bytende sarkasme uitgespreek—dan skud ek vir ewig die stof van die delwerye van my voete af. Welgevonde is weer in die mark; ek hoor die Bank wat dit destyds vir skuld moes inneem, wil graag die plaas van die hand sit. Wie weet, moontlik heet ek jou nog aankomende jaar welkom in die ou huis.”


[70]

INTELLIGENSIE-TOETSE.

I.

Die Afrikaners aap baie graag na. En meesal vergeet hulle om eers te gaan sit en die koste te bereken. ’n Paar studente gaan Duitsland-toe, kom as hooggeleerde doktore terug, vertel ons dat ons hele opvoedkundige stelsel verkeerd is, en ons sê onmiddellik ja en amen daarop. „In Duitsland maak hulle so en so en so, en ons behoort dit hier ook te doen!” roep een van die intellektuele reuse, en dadelik word deur die lengte en die breedte van die land deur middel van die pers uitgebasuin dat al ons skole volgens Duitse model moet ingerig word. Wie nie saamstem nie, word vir bekrompe en ongeleerd uitgeskel. So was dit vanselewe toe ons ’n Skotse onderwysstelsel ingevoer het, en so gaan dit vandag nog. In plaas dat ons gaan sit en ’n suiwer Suid-Afrikaanse stelsel[71] ontwerp wat rekening hou met Suid-Afrikaanse toestande, neul ons aljimmers met ingevoerde artiekels. In stede van Suid-Afrikaanse skoene te dra, dwing ons ons voete om te groei volgens die formaat van ingevoerde stewels. As ons streng eerlik met onsself wil wees, dan sal ons moet erken dat ons patriotisme waarop ons kamtig so trots is, dikwels selfbedrog is. Ons strewe na die vreemde en uitheemse en jaag dit na asof ons hele saligheid daarvan afhang.

En so het ons eindelik tot die ontdekking gekom dat ’n mens die kind se intellek kan meet! Dis nie juis ’n nuwe teorie nie, want iets wat bestaan kan ’n mens meet, hoewel so ’n metery dikwels tot absurde gevolgtrekkings lei. Die kopbeen van ’n idiotiese ou Boesman word in Taungs per ongeluk opgegrawe, en nadat sorgvuldige afmetings van die lengte, hoogte en breedte gemaak is, beweer die een groot geleerde na die ander dat eindelik die skedel van ons ou stamvaderlike aap ontdek is! O tempora! O mores!

So wou ek maar net gesê het dat dit miskien wel moontlik sal blyk om die menslike verstand te meet, maar dan moet rekening gehou word met[72] baie meer omstandighede as wat nou gebeur. Dis mos tog dwaasheid om te reken dat ’n stel intelligensie-toetse wat opgetrek is vir ’n Johannesburgse seun, toepaslik sal wees om die verstand te meet van ’n seun wat sy hele lewe op die delwerye geslyt het. Onmoontlik sal dit seker nie blyk om intelligensie-toetse vir die delwerskind op te stel nie, maar dan moet in gedagte gehou word al die omstandighede wat op sy ontwikkeling ingewerk het: sy huislike lewe, sy vermake, sy skool.

Maar nou kom een en ander van die jonger deskundiges vars uit een van Amerika se uniwersiteite met ’n volledige stel intelligensie-toetse volgens Terman, en kom pas dit somar onvervals toe op Suid-Afrikaanse kinders, om uit te vind of die bloedjies hoër of laer staan as hulle Amerikaanse nefies en niggies! ’n Ander bring weer die Binet-toetse in sy hand-sakkie saam en verklaar met fronsende voorhoof en treurige hoofskudding dat ons seuns en dogters agter is vir hulle Europese boeties en sussies. ’n Derde gee Cyril Burt se intelligensie-toetse netso onvervals en maak dan sy gevolgtrekkings!

[73]

As dit nie was dat die leser my miskien met Ananias sou klassifiseer nie, dan het ek hier opgeteken ’n stel intelligensie-toetse wat aan sekere skole in Transvaal gestuur is, met die versoek aan die onderwyser om dit in sy klas af te neem. Die resultate moes opgestuur word om te sien hoeveel normale kinders ons in hierdie deel van die provinsie besit. Ek verstaan dat die uitslae uiters teleurstellend was. En g’n wonder nie, want die meeste vrae was absurditeite. Een toets moet tog aan die vergetelheid ontruk word, en dis die volgende: „Wat sou jy doen as jy nog ’n hele ent van die skool af is en die klok hoor lui?”

Nou glo ek dat dat die kind moes antwoord dat hy sou hardloop dat die stof so staan om darem nog te trag om betyds te kom, maar die delwerseun dink glad anders oor die saak, en hier volg enige van die antwoorde:

(1) Ek sou ’n paar skrifte agter by my broek insteek.

(2) Ek sou omdraai en my pa gaan help.

(3) Ek sou sê my ma het my uitgestuur en dat ek moes wag.

[74]

(4) Ek sou sweer dat ek ons donkies moes gaan keer.

(5) Ons skool het nie ’n klok nie; Meester blaas op ’n fluitjie.

(6) Ons sou nie die klok hoor nie; ons donkiekar raas te baie.

Geeneen van die voorgaande antwoorde het enige punte behaal nie! Die opsteller was verbaas oor die onbegaafdheid van Kreepoort se delwerskinders!


II.

„Hoogsbenoke,
14 Junie 1925.

Mnr.............,
Skoolinspekteur,
Smartendal.

Die outoriteite het my verlof gegee om die intelligensie van sekere delwerskinders in u kring te kom meet, en my gevra om sake verder met u te reël. Sal u tog so goed wees om my per[75] ommegaande te laat weet watter dae vir u gerieflik sal wees, en of u my sal vergesel?

(Get.) D. E. M. Fohl, Ph. D.,
ens., ens., ens.”

Die voorgaande brief het ek beleef beantwoord en die geleerde heer laat weet dat hy baie welkom sou wees op Smartendal op die 28ste Junie en volgende dae. Ek sou met hom saamgaan om meteen ook te kan profiteer van sy ondervinding en kennis op die gebied van die intelleksbepaling.

Die 28ste Junie het eindelik aangebreek, en om neënuur stap dr. Fohl by my kantoordeur in. ’n Mens moes hom van naby sien om sy persoon behoorlik te kan appresieer! Sy hele voorkome het jou onwillekeurig aan ’n ontvlugte kranksinnige herinner. Sy oë staan verwild in sy kop; sy hare—en die vent het ’n vreeslike bossiekop gehad, netsoos die meeste mal mense het—is ongekam. Daarby dra hy ’n groot skilpadbril, wat nie juis sy uiterlik verbeter het nie. Hy stap so vinnig op my af dat ek begin bang word het dat hy dwars oor my sou struikel.

[76]

„Môre!” sê hy, „is jy die skoolinspekteur?” met die nadruk op die jy.

„Goeiemôre,” antwoord ek, „en wie is u?” met die nadruk op die u.

„Wat!” roep hy, „meen jy te sê jy ken nie vir my nie?”

„Nee,” antwoord ek ewe bedees, want miskien had ek te doen met ’n seur of ’n graaf of so iets, „ek ken u nie.”

„Ek is dr. Fohl. Het jy nog nooit van my gehoor nie?”

„Dit spyt my om u teleur te stel; glad nie. Ek het nog net eenmaal van u gehoor en dit was toe ek u brief ontvang het.”

„Dis snaaks, want op die Rand is ek welbekend; ek wou amper sê beroemd. My portret was in byna al die dagblaaie.”

„Bedoel u onder die advertensies van De Wit se pille of Moeder Seigel’s stroop?” vra ek ewe onskuldig.

Dit was die moeite werd om die kêrel se gesig te sien. Ek dag hy sou ’n oorval kry.

„Probeer jy om snaaks te wees, of is dit maar net wat ’n mens te wagte moet wees van julle buite-inspekteurs?” voeg hy my bits toe.

[77]

Sonder om op sy woorde ag te slaan, vat ek my hoed en my jas, stap na die moter toe, maak die deurtjie oop vir hom en klim self in.

„Ons sal maar met die grootste skool begin,” sê ek, „en dan sal u self kan oordeel of dit die moeite werd sal wees om met die toetse voort te gaan.”

Ons het ’n rit van ’n goeie twintig myl voor gehad, en ’n hele ruk het hy stil gesit sonder om sy mond oop te maak, en ek het hom nie gestoor nie. Maar eindelik het die stilswye hom begin te verveel.

„Hou jy nog jou inspeksie op die ouderwetse manier?” vra hy.

„Ek weet nie reg wat u bedoel nie,” sê ek.

„Stel jy jou vrae om die kinders se kennis te toets, of probeer jy om daardeur hulle intelligensie te bepaal?” gaan hy voort.

„Albei,” was my antwoord, „want dis nog al taamlik moeilik om altyd juis die lyn te trek tussen kennis en intelligensie.”

Nonsens,” sê hy met soveel nadruk dat ek byna in ’n sloot ry met die moter. „Nonsens! Dis gemaklik, en as jy dit nog nie kan doen nie,[78] dan behoort jy nie inspekteur van onderwys te wees nie.”

Ek was egter nie uit die veld geslaan nie.

„Neem nou die geval van my eie seuntjie van vyf jaar,” gaan ek voort, „as jy vir hom moes vra hoekom ’n voëltjie, hoewel hy swaarder weeg as lug, nie grond-toe val as hy vlie nie, dan sal hy jou dadelik die antwoord kan gee. Hoekom? Omdat sy boetie wat veertien jaar oud is, baie belangstel in vliegtuie en hy van hom geleer het wat dinamiese krag beteken. Die toepassing op die vlie van die voëltjie doen hy self. Sou jy in hierdie geval die vraag beskou as ’n toets vir sy intelligensie, of van sy kennis? Jy sal my seker wil gewonne gee as ek sê dat dit moeilik is om hier ’n definitiewe lyn te trek tussen sy intelligensie en sy kennis. Verder is dit duidelik dat die meeste kinders van sy leeftyd die vraag nie sou kan beantwoord nie, tensy hulle ook boeties het om hulle op dié punt in te lig.”

Maar dr. Fohl het my met minagtende stilswye bejeën en iets binnensmonds gemompel wat baie soos sy naam met die voorletters geklink het.

[79]

Die twintig myl was tog eindelik op ’n end, en ons hou voor die skool stil. Nog nooit het my die pad so lank gelyk nie.

Die nuus van die hooggeleerde dokter wat ’n kind se verstand kan meet, het ons vooruit-gesnel; en toe ons by die skool stilhou, was daar ’n hele klomp delwers met vrouens en kinders, en die skoolkommissie was ook voltallig. Almal het gekom om die wonderdokter te sien.

By die afklim storm almal op ons toe.

„Sal die dokter tog nie vir my vrou iets gee nie; sy ly so aan die asma?” vra een hier agter my, en dit het my ’n geruime tyd geneem om die goeie mense dit aan die verstand te bring dat ons geleerde vriend nie ’n medisynmeester is nie, maar wel ’n verstandsmeter.

„’n Landmeter ken ons,” sê een van die ouers, „maar ’n verstandsmeter het ons nog nooit van gehoor nie. En hoe gaan hy miskien ’n kind se verstand meet? Dis mos ’n ongehoorde iets.”

„Kyk, Oom,” sê ek aan die voorsitter van die skoolkommissie, „dit sal beste wees dat die skoolkommissie die toetse bywoon, dan kan die lede vir hulleself oordeel. Maar versoek tog[80] asseblief die ander vriende om te vertrek. Hulle sal môre kan verneem hoe dit met die geestes-gawes van hulle kinders gesteld is.”

Hierdie suggestie het byval gevind en die ouers het vertrek.

III.

Aan die gesigte van die skoolkommissie kon ek sien dat hul nou iets wonderliks verwag. Wat vir toormiddels gaan die kêrel gebruik? „Seker so ’n dingetjie soos die dokters gebruik om te hoor of ’n mens hartkloppens het,” fluister een.

„Nee wat,” waag ’n ander, „hulle sê hy kyk somar binne in ’n kind se kop met daardie groot bril van hom.”

Soortgelyke en nog heelwat minder vleiende opmerkings van die kant van die skoolkommissie-lede het ek opgevang.

Nou neem die toetsery ’n aanvang. Elke leerling kry ’n papiertjie waarop tien vrae gedruk is, en hierdie tien vrae moes in seker bepaalde tyd beantwoord word. Volgens die antwoorde word dan die kind se intelligensie bepaal.

[81]

Hier volg enige van die toetse vir kinders van elf jaar:

(1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die dokter vir hulp.

Wat is verkeerd met hierdie voorval?

(2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die spruit gekry. Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel reken dat die kind selfmoord gepleeg het.

Is dit moontlik?

(3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek.

Sou jy dit netso gesê het?

(4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig ernstig nie.

Is die koerante reg?

(5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie goed ken nie, wat sou jy antwoord?

(6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik is, wat sou jy heel eerste doen?

(7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by wat hy sê hy sal doen nie?

[82]

(8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en een-derde speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die ander speel? Is daar kinders wat albei speel?

(9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en heiblommetjies groei in kouer landstreke. Heiblomme en rubber wil klam grond hê; gras en aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die Amasonerivier is dit baie warm en baie nat. Watter van die voormelde plante sou daar groei?

(10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, oos of wes van C?

Of die voorgaande toetse, wat, tussen hakies gesê, almal dié van Burt is, afdoende is om die intellek van ’n kind van elf jaar te bepaal, laat ek aan die gesonde verstand van die leser oor. Ek wil in die meriete van die saak nie juis ingaan nie. Persoonlik egter is ek die mening toegedaan dat sulke vrae op hulself nie baie opvoedkundige waarde besit nie, en glad nie daarop berekend is om uit te vind wie die slimste kind in die klas is nie, nog minder help om juis die elfjarige leerling se verstand te bepaal nie. Ek het dan ook al gesien dat ’n hele paar seuns van[83] nege jaar die elfjarige toetse baie beter gedoen het as dié wat vir kinders van hulle eie leeftyd bedoel was.

Die uitdrukking op die voorsitter se gesig toe hy die verskillende kaartjies in die hand neem en deurkyk, was die moeite werd om te sien. Ek kon my moeilik bedwing. Maar toe hy hoor dat sy Jannie skaars drie uit die tien toetse reg beantwoord het volgens dr. Fohl se vereistes, was die gort gaar.

„Mag ek sien wat Jannie oor jou verspotte vrae te sê het?” vra hy verstoord aan die geleerde dokter.

„Seker,” was die antwoord, „dan sal u miskien meteen ’n besef kry van u eie kapasiteit.”

„Wat meen die vent?” vra die voorsitter, en ek kon sien dat sy oë blits.

Hier tree ek tussenbei.

„Wag laat ons sien hoe Jannie die vrae beantwoord het,” val ek hulle in die rede. „Ek sal een vir een vraag en antwoord aflees, en dan kan die dokter sê of hy dit goed- of afkeur.”

Met hierdie suggestie was almal tevrede, en toe begin ek af te lees:

[84]

Vraag: (1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die dokter vir hulp. Wat is hiermee verkeerd?

Antwoord van Jannie: Die een wat dit vertel het, lieg dat hy so bars.

Vraag: (2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die spruit gekry. Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel reken dat die kind selfmoord gepleeg het. Is dit moontlik?

Antwoord van Jannie: ’n Poliesman wat so onnosel is, behoort uit die diens ontslaan te word. „Hoor! Hoor!” uit die mond van die kommissielede.

Vraag: (3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek. Sou jy dit netso gesê het?

Antwoord van Jannie: Natuurlik nie. Wie tel homself dan as ’n broer?

Vraag: (4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig erg nie. Is die koerante reg?

Antwoord van Jannie: Dit hang alles daarvan af wie in die trein was. As dit kaffers of koelies[85] of onderwysers was, dan is die koerante reg, anders is hulle verkeerd.

Vraag: (5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie goed ken nie, wat sou jy antwoord?

Antwoord van Jannie: Ek is nie so slim soos dr. Fohl nie, wat ’n hele boel kinders kom beoordeel wat hy vandag vir die eerste keer sien.

Vraag: (6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik is, wat sou jy heel eerste doen?

Antwoord van Jannie: Ek sou my pa eers raadpleeg. „Hoor! hoor!” van die voorsitter, en in sy hele houding is vaderlike trots te lees.

Vraag: (7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by wat hy sê hy sal doen nie?

Antwoord van Jannie: Omdat jy anders maklik gekul sal raak.

Vraag: (8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en een-derde speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die ander speel? Is daar kinders wat albei speel?

[86]

Antwoord van Jannie: Ek weet nie. Ons speel net voetbal en albaster, en die meisies spring toutjie of speel hasie.

Vraag: (9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en heiblommetjies groei in koue landstreke. Heiblomme en rubber wil klam grond hê; gras en aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die Amasonerivier is dit baie warm en baie nat. Watter van die voormelde plante sou daar groei?

Antwoord van Jannie: Rubber, maar daar sal wel gras en onkruid ook groei.

Vraag: (10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, wes of oos van C?

Antwoord van Jannie: Oos.

„Wat sê u, Dokter, het die seun net drie antwoorde reg?” vra Jannie se trotse vader.

„Ja,” brom dr. Fohl, „en sy intellek is dié van ’n sesjarige seun. Hy aard waarskynlik na sy vader.”

Hier moes ek opnuut die vrede herstel.

„Sal ons nie liewers nou maar ry nie, Dokter?” vra ek. „Dit word laat en u kan vanaand die[87] resultate op u gemak uitwerk, en dan môre vir my laat weet hoe dit met die delwerskinders se verstandsvermoë gesteld is.”

„Dis nie eers nodig om dit uit te werk nie,” antwoord dr. Fohl. „Daar is byna g’n enkel kind in hierdie skool wat normaal is nie. Feitlik almal is onder normaal.”

„Maar as dit werklik die geval is, dan is u toetse onbevredigend. Ek laat my nog nooit vertel dat onder honderd en tien kinders daar skaars ’n dosyn volgens u berekening normaal is nie! U moet vir die delweryskole ’n stel toetse optrek wat rekening hou met hierdie soort kind se omgewing, ontwikkeling, ondervinding en huislike omstandighede. Die resultate bewys dat u intelligensie-toetse nie doelmatig is nie!”

Dog die dokter wou my kant van die saak maar nie insien nie.

Ons was dan ook al so goed as in die moter, toe die voorsitter, wat vir die laaste paar minute in druk gesprek was met ’n paar lede van die skoolkommissie, vorentoe tree.

„Mag ek die dokter vra of hy gewillig is om homself te onderwerp aan seker toetse wat ons hom sal stel? Ons wil graag sien of sy groot[88] intellek meetbaar is. Dis nie aldag wat ons sulke geleerde manne in ons midde kry nie.”

As ek in die dokter se plek was, dan sou ek hartlik vir die eksamentjie bedank het, maar ek het verwag dat hy hom die toetse sou laat welgeval. Was die kêrel ’n bietjie minder verwaand gewees en het hy die delwer beter geken, dan sou hy die versoek geweier het, maar nou loop hy in die val netsoos beer by jakkals.

„Seker, alte seker, oubaas,” sê hy, „maar maak net gou, want ons is haastig.”

„Ek sal nie lank draai nie, Dokter. En as jy die volgende vrae tot ons bevrediging beantwoord, dan is jy werklik so slim soos jy dink dat jy is.”

Vraag (1): Hoe moet gravel lyk om ’n goeie was te gee?

Vraag (2): Hoe sal jy uitvind of jou masien diamonds weggooi?

Vraag (3): Hoe moet die porrel lyk?

Vraag (4): Wat is meer werd: ’n bruin diamond of ’n swarte?

Vraag (5): Hulle beweer dat die diamonds hier spoeldiamonds is. As dit so is, hoe kom hulle hier tussen die gravel op die bult?

[89]

Op versoek van die voorsitter het ek die vrae afgeskrywe en die papier toe aan dr. Fohl oorhandig.

„Kyk,” gaan die voorsitter verder, „jy kry twee minute om ’n vraag te beantwoord.”

„Maar is jy ernstig?” vra dr. Fohl half-verleë:

„Dood-ernstig,” herneem die voorsitter.

„Maar wat weet ek van gravel en porrel en wat dies meer sy af; ek is mos nie ’n delwer nie,” vervolg dr. Fohl.

„Nou ja, maar sê dan reguit of jy die vrae kan beantwoord of nie!” gaan die voorsitter voort.

„Ek kan nie,” beken dr. Fohl.

„Maar Jannie van my kan wel,” sê die voorsitter. „Volgens jou uitspraak is sy intellek dié van ’n kind van ses. Nou ja, dr. Fohl, volgens my oordeel en dié van my kommissie is jou verstand dié van ’n kind onder ses, en ek sou aan die hand gee dat jy eers ’n tydjie op die delwerye kom deurbring voordat jy dit waag om weer toetse vir ons kinders te kom stel.”

[90]

Na hierdie woorde draai hy sy rug op die dokter, gee my sy hand en vertrek met die lede van sy skoolkommissie.

Op pad huis-toe wou ek weet of ons die ander-dag met die intelligensie-toetse sou voortgaan, maar dr. Fohl het my ’n antwoord skuldig gebly.

Dieselfde aand is hy met die tienuur-trein weg R.-toe.


[91]

„GETREP.”

Daar gaan baie oneerlikheid aan op die delwerye, en etlike delwers vergaan van ellende omdat die diamante wat op hulle kleims gekry word, in die besit kom van gewetelose persone wat maar alte gereed is om op onwettige wyse hierdie kosbare steentjies van kaffers te koop. En dis nie so danig maklik om die kaffer of die onwettige koper te vang nie. Hulle is uiters geslepe en slimmer as die houtjie aan die galg.

Om ’n halfdosyn of meer kaffers wat onder in ’n kleim werk, dop te hou om te voorkom dat hulle stilletjies ’n diamant oppik, is nie kinderspeletjies nie. Persoonlik wou ek nooit glo dat ’n kaffer my so onder my oë sou fop nie, en het dan ook hierdie mening aan meer as een delwer vry uitgespreek.

„Nou goed,” sê ’n ou delwer eendag aan my, „kom saam na my kleim toe, en dan sal u self[92] kan oordeel of ons delwers die kaffer se gladheid om ’n diamant te steel oordrywe het.”

Ek het sy aanbod gewillig aanvaar, en net vir gou staan ons by sy kleim waarin sowat sewe kaffers besig was om gruis los te kap.

„Swartbooi,” sê my vriend (wat onder die delwers bekend gestaan het as Koos Blikkies) aan sy mandoor onder die skepsels, „hierdie baas wil nie vir my glo as ek hom vertel dat julle kaffers ’n diamant onder sy neus sal wegsteel sonder dat hy dit sal bemerk nie. Nou wil ek net vir hom wys hoe maklik julle dit kan doen.”

„Goed, my baas,” antwoord Swartbooi. „Gooi maar daardie ses-carat wat ons gister gekry het, hier in die kleim voor my neer. Laat hierdie baas dan al die tyd vir my in die gate hou, en as die steentjie wegraak, dan moet die baas hom maar betaal. Hy is mos so seker van sy saak.”

„Ek is heeltemal tevrede,” sê ek, „maar as ek vir Swartbooi betrap dat hy die diamant vat, dan kry hy ses houe met hierdie handsambok.”

Swartbooi gee so ’n lang pruimspuug, en terwyl al sy van die twak geelgekleurde tande wys, sê hy laggend: „Allright!”

[93]

My selfvertroue het my nou ’n bietjie begewe, want ’n kaffer beklink nie somar gou so ’n kontrak nie, of hy moet absoluut seker wees van sy saak. Maar die feit dat ek net die één skepsel, wat g’n drie tree van my af gruis kap nie, moes dophou, het my soveel vertroue in myself gegee dat ek my pyp stop en op my gemak gaan sit en rook het op die kant van die kleim.

„Nou toe,” voeg ek Koos Blikkies toe, „plaas nou maar die diamant net waar jy wil, solank as ek net die steentjie kan sien, en as Swartbooi hom wegvat sonder dat ek hom betrap, dan eet ek nog my hoed op die koop toe ook op.”

Koos Blikkies het die diamant onder in die kleim neergesit, omtrent twee tree van my en sowat ’n tree van Swartbooi af, en toe vir my gewaarsku om baie oplettend te wees. Hy sou my ’n halfuur tyd gee; as die diamant dan nog daar was, of as ek die kaffer gevang het, dan het ek gewen. Met ’n laaste vermaning aan my om die skepsel dubbel goed dop te hou, het hy vertrek.

Binne ’n kwartier het die diamant spoorloos verdwyn. Ek kon sweer dat ek vir g’n enkel oomblik my oë van die klippie af weggeneem[94] het nie, en tog ... dit was weg! Onder die stof kon dit nie wees nie, want dit het onder op die harde bodem gelê en die volk het aan die ander kant van die kleim gewerk, en dan? ek het die ding nog so flussies daar gesien.

Ek vrywe my oë en kyk weer.

„Waar is die diamant, Swartbooi?” vra ek.

„Ek weet nie; die baas hy het hom mos opgepas,” antwoord die skepsel, en om sy mond sweef daar ’n trek van diepe minagting vir my oplettendheid.

„Maar wat het dan van die ding geword?” vra ek weer, en in my verbeelding sien ek reeds hoe ek £150 vir Koos Blikkies moet betaal, en geld was in daardie dae nie juis alte volop by my nie.

„Hoekom die baas hy vra vir Swartbooi? Die baas hy het hom mos opgepas. En al is hy weg, die baas hy het mos baja sjeld, hy kan mos maklik betaal,” sê die skepsel met so ’n sataniese glimlaggie van hartlike voldoening, dat ek somar lus voel om ’n handvol gruis by sy keelgat af te druk.

Ek het gelukkig my £150 behou, want Swartbooi was eerlik genoeg om die diamant aan sy[95] baas terug te besorg, maar hierdie voorvalletjie het vir my geleer hoe onmoontlik dit vir die delwer is om sy werksvolk op te pas, en dat hy feitlik aan hulle genade oorgegee is. Het hy eerlike kaffers, dan is dit ook nie nodig om hul op te pas nie, maar het hy oneerlike volk, nou ja, dan moet hy maar self ’n plan uitdink. Ek het nie raad vir hom nie.

Hoe Swartbooi daardie kosbare steentjie so vlak voor my oë kon verduistermaan, weet ek tot vandag toe nog nie, maar die feit bly daar dat hy dit wel gedoen het.

Nou, leser, sal jy miskien beter verstaan waarom die owerheid die trepstelsel op die delwerye ingevoer het. Was dit nie in swang nie, dan sou die onwettige diamanthandel welig op die diekens gefloreer het, en sou die eerlike delwer maar baie min vrug op sy arbeid gesien het. Selfs onder bestaande omstandighede gaan dit maar moeilik en vind daar nog baie oneerlikheid plaas.

Maar ongelukkig is hierdie trepstelsel ’n uiters gevaarlike wapen in die hande van die minder eerlike speurder, en kan dit alte maklik gebeur dat die onskuldige persoon in die val gelei en gevang word.

[96]

II.

Koos Blikkies was ’n interessante persoonlikheid. Nie juis rysig van gestalte nie, was hy die besitter van ’n paar krom bene en besonder lang arms. As ’n mens hom op ’n afstand sien aankom, dan dink jy onwillekeurig aan Darwin se ewolusieteorie. Beskou jy hom egter van naderby en kyk jy hom reg in die oë, dan vergeet jy heeltemal sy krom bene en sy abnormale arms. So ’n ope en eerlike gesig sien jy nie aldag nie, en al is dit miskien ’n bietjie vuil van die stof, dan nog trek dit dadelik die aandag van elkeen wat hom vir die eerste keer ontmoet.

Die naam Blikkies, verstaan ek, het hy met die driejarige oorlog verwerf. Hy was eintlik die groot man gewees om vyandelike forte op te blaas. En vir hierdie doel het hy kondensmelkblikkies gebruik wat hy met dinamiet gelaai het. Koos self het die bynaam as ’n eretietel beskou en was selfs trots daarop.

„Ek hou baie van boerdery, maar die boerdery hou niks van my nie,” het hy eendag geantwoord op my vraag wat of hom dan delwerye-toe[97] gedrywe het. Maar ek het later uitgevind dat Koos Blikkies se bure en sogenaamde vriende so van sy goedhartigheid en vrygewigheid misbruik gemaak het dat hulle hom totaal gerinneweer het. Met ’n wa, ’n span osse, ’n tent, ’n vrou en ses kinders, ’n paar pikke en grawe en £100 kontant het hy uit die boerdery gestap en op Kreepoort geland.

Die eerste jaar het die Geluksgodin haar gesigskant vir hom getoon en het hy goed geld gemaak. Maar hier het dit ook maar nes voorheen op sy plaas gegaan. Sy bure wat minder gelukkig was as hy, het so dikwels van hom geleen en so selde weer die geleende terugbetaal, dat Koos Blikkies aan die end van die jaar ryk aan vriende maar arm aan geld was.

„Ek kan tog nie die arme mense rondom my van ellende sien vergaan nie, en hulle sal my weer op ’n ander keer help as ek in verleentheid is,” het hy aan sy vrou gesê toe sy hom vir die duisendste keer gesmeek het om tog minder rojaal geld en goed uit te leen.

Koos Blikkies is een van die weinige mense op aarde wie se vertroue in sy medemens nie maklik kan geskok word nie. Self so eerlik,[98] opreg, eenvoudig en goedhartig, kon hy nooit iemand anders van verkeerde of oneerlike motiewe verdink nie. Maar aan die ander kant het hy nie geskroom om ’n man in sy gesig te sê wat hy van hom dink as hy hom op ’n skelmstuk betrap het nie. En by so ’n geleentheid kon hy hom nogal van besonder keurige taal bedien.


Speurder Midas was g’n vriend van die delwers nie, en hy het onomwonde verklaar dat in sy opienie al die delwers ’n klomp skurke was. Die leser sal derhalwe maklik kan begryp waarom hy en die delwers mekaar nie juis uit liefde omhels het nie. Op die delwerye het die gerug weleens die rondte gedoen dat Midas self nie bo verdenking was nie. En die een delwer het in sy buurman se oor gefluister dat die oneerlike skurk minder kans staan om getrep te word as die eerlike man. Ja, dat Midas self ’n aandeel had in die I.D.B.

„Het oom Koos gehoor dat die arme Jan Emmer vanmôre vroeg getrep is?” sê Gert Struis aan sy buurman.

„Jy wil tog nie vir my kom vertel dat daardie arme sukkelaar gevang is nie? Ek sal nooit[99] glo dat Jan Emmer skuldig is nie!” sê Koos Blikkies, en sy oë blits van verontwaardiging.

„Ja, Oom, ek het so flussies gesien dat Midas hom dorp-toe vat. Hy loop tussen twee kafferpolies, en een van hulle het my vertel dat Jan Emmer vir I.D.B. gevang is,” gaan Gert voort.

„En wat moet nou van sy siek vrou en babetjie word?” vra Koos Blikkies weer.

„Die Here alleen weet, Oom. Dis juis deur hulle wat hy getrep is.”

„Hoe kan dit deur hulle wees, man? Jy praat nou somar nonsens,” sê Koos, en ’n mens kon sien dat hy hom vererg.

„Nee, tog nie, Oom. Gister was die dokter by Jan Emmer se tent en hy het die vrou en die babetjie see-toe georder. As hulle nie gaan nie, het hy gesê, dan sou hul nog uiters ’n ses maande kan lewe. Oom weet seker hoe hardop die arme Jan is en hoe lank Midas al probeer om vir hom te trep. Dis hierdie soort game wat Midas speel wat my bloed laat kook. Hy wis dat Jan byna enigiets sou waag om geld in die hande te kry, sodat hy sy vrou en kind kan see-toe stuur volgens die dokter se orders, en[100] nou maak Midas van Jan se ellende gebruik om die arme sukkelaar te trep en...”

Hier raak Gert se verontwaardiging vir hom meester en kon hy nie voortgaan nie.

„Skandelik!” roep Koos Blikkies, „skandelik! En dan is die vent nogal kamtig iemand wat moet toesien dat die wet uitgevoer en die orde gehandhaaf word. Maar kan ons dan niks doen om die arme Jan uit die tronk te hou nie?”

„Ek vrees ons kan niks daaraan doen nie, Oom, want Jan is werklik getrep. Verlede nag om drie-uur het ’n kaffertrep hom ’n tien-carat aangebied vir £10 en Jan het in die strik geloop. Die gedagte aan sy vrou en babetjie se toestand het natuurlik die deurslag gegee. Maar is dit nou regverdig om iemand in Jan se toestand so in die versoeking te bring? Is dit nou reg om ’n man wat nog altyd eerlik en ordentlik was, in ’n skelm te herskep? Waarom probeer hy nie liewer daardie Moor Seal vang nie? So wragtag, Oom, as hul daardie duiwel van Kreepoort nie wegneem nie, dan word hy nog gelynch!”

Hierdie laaste sin het Gert op so ’n toon geuit dat Koos Blikkies jou werklik-waar moes skrik.

[101]

„As ek in Jan Emmer se plek was, dan sou ek dieselfde gedoen het,” sê Koos Blikkies, „en die persoon wat vir so iemand ’n trep stel, is absoluut uit die bose en verdien om gestraf te word honderd maal meer as die arme slagoffer wat deur sy duiwelse lis gevang is.”

In ’n armoedige hut op Kreepoort lê ’n arme vrou en haar kindjie op hulle uiterste; maar wat het die wet daarmee te maak? Jan Emmer is skuldig en moet gestraf word!

III.

Die treppery van Jan Emmer het ’n groot opskudding verwek op Kreepoort. Die volgende dag kon ’n mens orals tussen die kleims groepies delwers druk in gesprek met mekaar opmerk. Dit het alles oor die een onderwerp gegaan, en die gemoedere was net warm. Het Koos Blikkies nie die delwers tot gematigdheid aangespoor nie, dan weet die liewe Vader alleen wat sou plaasgevind het.

„Nie met geweld nie,” het hy gesê, „maar met uitoorlê sal ons vir Midas die les leer. Moet[102] net nie oorhaastig te werk gaan nie.” En hierop het die delwers na hulle kleims toe gegaan en die verder verloop van sake in Koos se hande gelaat.

Vir Gert Struis en Piet Visasie het hy sy planne meegedeel. „Dit sal nooit gaan om teveel konfidante te hê nie, want dan is ons geheim netnou op die vlakte,” het hy aan hulle gesê.

„Maar wat is dan Oom se planne?” vra Gert.

„Kyk, neef, ek het vanmôre weer ’n mooi vyftiencarat-klippie gekry; Swartbooi het dit so ’n uur of wat gelede vir my gebring. Hy het dit somar in die kleim uitgekap.”

„Maar hoor, Oom is darem gelukkig,” val Gert hom in die rede.

Sonder om notiesie te neem van Gert se interrupsie gaan Koos Blikkies voort: „Ek kan vir Swartbooi vertrou, want jy weet seker dat ek eenmaal sy lewe gered het—maar dis nou tot daar-en-toe—en ek gaan hom as trep gebruik om daardie Moor Seal te vang. Want as ek vir Seal gevang het, dan het ek vir Midas ook in die hande.”

[103]

„En is Oom nie bang om die diamant te verloor nie?” vra Gert.

„Glad nie, neef, glad nie; ou Swartbooi sal my nooit bedrieg nie, en hy is vir Seal te slim. Maar ek het jou en Piet Visasie se hulp nodig. Ek weet Piet is ’n kêrel wat sy mond kan hou en wat nie maklik skrik nie.”

„En hoe sal Oom vir Midas vang deur vir Seal te trep?” vra Gert weer.

„Dis te lank om vir jou nou al die redes vir my gevolgtrekkings hier uiteen te sit. Oefen maar geduld; jou nuuskierigheid sal oor ’n dag of wat bevredig word. Seal ag homself so veilig met sy onwettige handel dat hy baie maklik gaan gevang word.”

„Nou goed, Oom kan op my reken. Laat hoor nou Oom se planne.”

„Kyk,” begin oom Koos, „Swartbooi vertel aan my dat hy Seal se rolplek ken. En hy weet te sê dat Midas altyd sorg dra dat daar nooit ’n kafferpolies in die nabyheid kan kom nie. Nou het Swartbooi al vir Seal gepols, en hy sê die Moor is baie gretig om besigheid te doen. Ons weet ook dat Midas op Smartendal se groot dans is. Môre-oggend om drie-uur gaan[104] Swartbooi my vyftiencarat-diamant aan Seal verkoop, en jy, Piet Visasie en ek, sowel as twee kafferkonstabels gaan die Moor vang. Verstaan jy nou?”

„Ja, Oom, en as ons daardeur somar vir Jan Emmer ook kan loskry, dan sal ek meer as beloon vir die moeite voel.”

„Wie weet, neef, wie weet? Miskien het alles vir die beste gebeur!” En met hierdie woorde stap Koos Blikkies na sy tent toe.

Daardie nag is die net nog ’n slaggie uitgesprei, maar hierdie keer om ’n regte roofvoël te vang, en dit was nie tevergeefs nie. Seal is op heterdaad betrap, en daar was vyf ooggetuies!

IV.

Belangstelling sowel as nuuskierigheid het my hof-toe gedrywe op die gedenkwaardige dag van 9 Junie, 192..., toe Jan Emmer en Seal voor die regter moes verskyn.

Dit was op ’n Vrydag, en daar die meeste delwers tog op daardie dag na Smartendal moes kom om hulle diamante te laat registreer alvorens[105] hulle dié mag verkoop, was die hofsaal ver te klein om die skare van delwers te bevat en moes etlike honderde teleurgesteld omdraai.

Daar is ’n doodse stilte in die hof toe die regter sy plek op die regbank inneem, en toe Jan Emmer se naam uitgeroep word, kon ’n mens ’n speld hoor val.

Die beskuldigde stap met lustelose tred die boks binne, en dit moes ’n hart van staal gewees het wat op daardie oomblik g’n medelyde met hom gehad het nie. Die versreël uit Gesang IV het my onwillekeurig te binne geskiet: „Wordt ergens zo betreurenswaard ’n schepsel Gods gevonden?” toe ek my oë op hom rig.

Met geboë hoof, arms wat slap langs sy liggaam hang, en oë wat te skaam is om op te kyk, staan hy daar, waarlik ’n betreurenswaardige skepsel Gods. Sy klere is nog vuil van die rooi stof van die diekens, en sy hare hang in toiings oor sy voorkop. Ja, ek kon sweer dat selfs oor die juts se gesig ’n sweem van jammerte vir ’n oomblik geflits het.

„Jan Emmer, pleit jy skuldig of onskuldig op die aanklag?” vra die publieke aanklaer.

[106]

„Skuldig,” klink die nouliks hoorbare antwoord.

„Jy pleit skuldig op die aanklag dat jy onwettig ’n ruwe diamant van ’n kaffer gekoop het,” sê die regter, „en as delwer behoort jy tog te weet dat dit as ’n baie ernstige oortreding in die oog van die wet beskou word. Jy weet ook wat die straf is in so ’n geval. Sover ek weet was daar g’n versagtende omstandighede wat jou tot so ’n misdaad gedrywe het, gewees nie, en daarom vonnis ek jou tot......”

Onverwags klink daar ’n stem van uit die gehoor in die hofsaal. Verstoord kyk die regter in daardie rigting, en aan die uitdrukking op sy gesig was dit duidelik te sien dat hy daardie persoon sonder verder versuim gaan laat uitgooi. Dog tot aller verbasing verander die kwaai uitdrukking op die juts se gesig, en op byna vriendelike toon vra hy: „Weet u miskien iets van die saak af en wil u getuienis aflê?”

„Ja, edelagbare,” sê Koos Blikkies, en sy stem klink helder deur die hofsaal.

„Nou kom dan vorentoe en kom lê jou getuienis hier in die getuiehokkie af,” herneem die regter.

Sonder om ’n oomblik te aarsel vleg Koos[107] Blikkies sy weg deur die gedrang na die getuieboks toe, en met ’n diep buiging aan die regter en die jurielede begin hy sy verklaring, wat egter meer ’n pleidooi was as iets anders:

„Edelagbare regter, en here lede van die jurie, ek weet ek praat namens al die delwers van Kreepoort as ek u my hartlike dank toebring vir die geleentheid om ’n woordjie ter verdediging van Jan Emmer te spreek.” Ek het my verbaas oor die keurige taal waarvan Koos Blikkies hom bedien en kon merk dat die regter en die jurie ewe verbaas was as ek. „U het soewe van versagtende omstandighede gewag gemaak,” gaan Koos voort, „en edelagbare regter en lede van die jurie, as daar ooit versagtende omstandighede bestaan het, dan was dit in hierdie geval wat u nou geroepe word om vonnis oor te vel. Hier het u voor u ’n man wat beter dae geken het; ’n man uit ’n goeie huis, fyn opgevoed en getroud met ’n dame ewe goedgekonnekteer as hy. Sonder sy eie toedoen bevind hy hom met famielie en al op Kreepoort vandag; sy sogenaamde vriende, waarvan party gegoede mense is, het hom tot die bedelstaf gedrywe. Maar ek wil u kosbare tyd nie alte lank in beslag neem[108] nie, en sal dus nie verder oor die beskuldigde se verlede uitwei nie... Op die delwerye het dit met die beskuldigde van sleg tot erger gegaan. Die eerste ses maande het hy ’n blink geloop, en tot oormaat van ramp word sy vrou en kind ernstig siek. Die dokter besoek die delwerye, en op mooipraat van enige delwers beskuldigde se tent.

„‚Jou vrou en kind moet see-toe,’ raai die dokter aan, ‚anders gee ek hul nog uiters ses maande om te lewe.’ Edelagbare, stel u nou in die plek van die beskuldigde! Ek weet u het ook ’n dierbare eggenoot en kinders,—wat sou u gedoen het as u onder daardie omstandighede die kans aangebied is om geld in hande te kry om die kosbare lewe van u dierbares te red?—As u anders sou gehandel het as Jan Emmer, dan is u van beter stoffasie gemaak as hy en ek en die gewone delwer.”

Hier breek Koos Blikkies se woordevloed vir ’n oomblik af, en die hoofde van al die teenwoordiges gee ’n nouliks sigbare knik van instemming met sy pleidooi.

„Ten volle bewus van Jan Emmer se ellendige toestand,” vervolg Koos Blikkies, „stel Midas,[109] wat u ’n speurder noem, maar vir wie ons ’n minder vleiende naam het, sy trep vir hom.” Met moeite bedwing die spreker hom, en met ’n stem wat van verontwaardiging tril, bars hy uit: „Is dit nou reg en geregtigheid, edelagbare regter en here lede van die jurie, om ’n man wat in Jan Emmer se gemoedstoestand verkeer, te trep?—Dis die werk van die duiwel, edelagbare, dis uit die bose!”

Koos bly weer ’n rukkie stil. ’n Mens kon sien dat èn die juts èn die jurie getroffe was. „Ons pleit vir die ligste straf wat u kan oplê, edelagbare. As dit moontlik is, vra ons om die genade van die hof. Kan dit egter nie, dan versoek ons nederig om ’n opgeskorte vonnis of ’n geldelike boete, want dié sal ons betaal, en namens die delwersgemeenskap beloof ek dat ons sal sorg dra dat die beskuldigde saam met sy vrou en kind see-toe sal gestuur word. Ons onderwerp ons volgaarne aan u uitspraak.”

Koos Blikkies gaan sit, en die atmosfeer is nou so gespanne dat ’n mens amper bang voel om asem te haal.

Die jurie is sigbaar aangedaan, en hoewel die regter niks laat merk nie, kon ’n mens tog[110] aan sy stem hoor dat ook hy onder die betowering van Koos Blikkies se welsprekendheid geraak het.

„Ek simpatiseer met jou, Jan Emmer,” sê die regter eindelik, „want die bose self kon nie ’n beter tyd en geleentheid uitgesoek het om jou val te bewerkstellig as wat Midas die speurder geprakseer het nie. Maar jy is skuldig, en die wet moet gehoorsaam word. Ek maak jou straf egter so lig as ek kan, en hiervoor moet jy die vriend wat so ’n kragtige pleidooi vir jou gelewer het, danksê. Dis jou eerste misdaad, en die vonnis van die hof lui: agtien maande tronkstraf, opgeskort vir agtien maande! Laat dit vir jou ’n waarskuwing wees!”

Noudat die spanning van die laaste paar uur verby is, vergeet die delwers glad waar hulle is. Dit klap in die hande en stamp met die voete dat hoor en sien vergaan. Dit het moeite gekos om weer stilte in die hof te verkry.

Dit was die merkwaardigste hofsitting wat ek ooit in my lewe bygewoon het.

[111]

Seal is gevonnis, en Midas se medepligtigheid het met die verhoor uitgekom. Hy is saam gevonnis en later uit die diens ontslaan.

Jan Emmer se vrou en kind is fris en gesond, en hulle woon nie meer op die delwerye nie. Hy is voorman op Koos Blikkies se plaas. Laasgenoemde se geluk het spreekwoordelik geword op Kreepoort, en ’n jaar na die hofsitting het hy genoeg geld gemaak om ’n mooi plaas te koop en kontant af te betaal.

Ek hoop ek klap nie uit die skool as ek aan die nuuskierige leser vertel dat Koos Blikkies in die jaar 18... een van die briljantste debatteerders was wat ooit op die Kollegebanke in Kaapstad gesit het.


HIERDIE BOEK IS GEDRUK DEUR
MASKEW MILLER BEPERK,
IN HUL STANDERD-PERS, KAAPSTAD.


MASKEW MILLER SE

LEES-MET-LUS
LEESBOEKE

DEUR

P. IMKER HOOGENHOUT, B.A.,

J. P. BOTHA, B.A., en P. M. van der LINGEN, B.A.

(Skoolinspekteurs in Transvaal.)

Die boekies bevat ’n groot aantal illustrasies, waarvan die meerderheid heeltemaal origineel, en die inhoud van die boekies is fris en lewendig.

Dit is die bedoeling van die skrywers om ’n serie Leesboeke in die skool te bring wat alles wat tot dusver uitgegee is, sal oortref.

VIR SUB-STANDERD A. OF GRAAD I.

VIR SUB-STANDERD B. OF GRAAD II.

VIR DIE STANDERDS:

Maskew Miller Beperk
KAAPSTAD


MASKEW MILLER’S

English Readers

FOR

SOUTH AFRICAN SCHOOLS
AND SCHOLARS

A Series of Ten Books, including a Teachers’ Handbook

THE WHOLE UNDER THE EDITORSHIP OF

Mr. JAMES RODGER, M.A.

Inspector J. F. SWANEPOEL, B.A.

Inspector CHARLES HOFMEYR, B.A.

The Series referred to above is the result of many months thought and practical experiment on the part of the editors, two of whom—Inspectors of Education for the Cape Province—have for some years made the teaching of English to Afrikaans-speaking children a special study, and it is in a measure to provide a well graded series, with a distinct South African atmosphere, that this work has been undertaken.

The format of the series will be uniform in style and size with that highly successful series of Afrikaanse Leesboeke „Lees met Lus.”

MASKEW MILLER, LIMITED
CAPE TOWN